Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
11 van Suid-Afrika loop PGA storm

Toe Ernie Els in Julie 2012 in die Britse Ope by Royal Lytham & St. Annes Suid-Afrika se vierde gholf-major in vyf jaar losgespeel het, sou niemand kon voorspel dat dit ’n major-wendroogte van byna ’n dekade vir sy land sou inlei nie.

Garrick Higgo pronk met een van die twee trofeë wat hy die afgelope maand verower het. Foto: Getty Images

In daardie stadium is wyd geglo dat sterre soos Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Branden Grace die suksesse met reëlmaat sou laat inrol, en Suid-Afrika vir jare met spogregte sou bederf.

Dit sou natuurlik sotlik wees om die drie met ’n stok te slaan omdat dit nie gebeur het nie. Niemand besluit uit sy eie wanneer hy ’n major gaan wen nie, en hulle kan waaragtig nie beskuldig word dat hulle nie probeer het nie.

Met die trio nou in hul 30’s is hul tyd vir majors wen natuurlik ver van verby, en voel veral Oosthuizen steeds na die veiligste opsie wanneer voorspel word wie die major-droogte gaan beëindig.

Sedert sy Britse Ope-triomf by St. Andrews in 2010 het die noodlot hom al ’n paar lelike strepe in die pylvak van majors getrek, en die feit dat hy al tweede in al vier die grotes was, onderstreep sy talent, eerder as sy onvermoë.

Agter hom raak die groep Suid-Afrikaners vir wie mens major-sukses wil voorspel, egter groter en groter.

Dalk nie dadelike major-sukses nie (met Gary Player die laaste Suid-Afrikaner wat die Amerikaanse PGA-kampioenskap gewen het, voel dit baie gevaarlik om te sê een van ons ouens kan dit volgende Sondag doen), maar beslis iewers in die nie te verre toekoms nie.

Heel bo aan dié lys pronk nou ’n jong man wat eers die afgelope week sy 22ste verjaarsdag gevier het, maar reeds met drie Europese titels spog. Én wat kan spog dat hy die twee laagste wentellings ooit op die Europese reeks in sy twee seges in die Kanariese Eilande opgestel het. En wat so vinnig opgang gemaak het dat ’n mens nie kan help om opgewonde oor sy toekoms te wees nie.

Garrick Higgo het immers eers op 16 op die radar van Suid-Afrika se nasionale amateurspan beland, maar ’n jaar later reeds in die Junior Presidentebeker gespeel, en binne minder as ’n halwe dekade Sonskyn- en Europese titels begin inryg. Hy is waarskynlik tans die warmste speler op Planeet Aarde, ná wentellings van 25-onder en 27-onder in die Kanariese Eilande.

Nou bevind Higgo hom in die VSA, waar hy Donderdag in die Amerikaanse PGA-kampioenskap sy major-debuut sal maak, as een van 11 (!) Suid-Afrikaners op die rol van deelnemers. En hy is net-net buite die top-50 op die wêreldranglys, as een van ’n voorheen ongehoorde tien Suid-Afrikaners in die top-100.

Die jong Stellenbosser het in die laaste maand die gesig geword van SA gholf – en welverdiend ook – maar dit maak ’n mens nie minder huiwerig om hom nou as ’n gunsteling vir PGA-glorie te installeer nie.

Gholf in Europa is ’n ander dier as gholf in die VSA. Die druk van ’n major-toernooi is onvergelykbaar met die druk van ’n “gewone” toernooi. En 22-jariges wat hul eerste majors wen, behoort tot die feëverhaal-genre.

As hy dus volgende Sondag wals na die PGA-kroon, sal hy iets vermag wat niemand durf voorspel het nie.

Dié 10 dra saam aan SA vlag
  • Louis Oosthuizen (nr. 32 op wêreldranglys): Die Suid-Kapenaar het nog nooit die afsnypunt in ’n PGA-kampioenskap gemis nie, en in 2017 tweede geëindig. Hy was agtste en tweede in sy laaste twee toernooie. 
  • Christiaan Bezuidenhout (nr. 40): Die SA Ope-kampioen speel sedert Februarie net in die VSA, en sal komende week in sy tweede PGA-kampioenskap speel. 
  • Erik van Rooyen (75): Hy het in 2019 ’n agtste plek in sy heel eerste PGA-kampioenskap behaal. 
  • Daniel van Tonder (77): Dié Oos-Rander gaan stert in die lug na sy eerste major, danksy vyf titels in die laaste agt maande. 
  • Dylan Frittelli (79): Die gebore Johannesburger sal in sy derde PGA-kampioenskap speel. 
  • Brandon Stone (85): Stone het verlede maand in Limpopo sy eerste sege sedert 2018 behaal. 
  • Branden Grace (91): Grace het die wenkamp in Maart in Puerto Rico betree, net 5 weke ná die skielike dood van sy pa. 
  • Dean Burmester (93): Die Bloemfonteiner het twee weke gelede in Spanje sy tweede Europese titel gewen. 
  • George Coetzee (98): Coetzee was sewende in die PGA-kampioenskap van 2015. 
  • Charl Schwartzel (157): Schwartzel is by Kiawah Island danksy ’n spesiale uitnodiging van die Amerikaanse PGA. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.