Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
5 tergende vrae voordat Meesters begin

Skaars vyf maande het verloop sedert Dustin Johnson se skittersege in die 84ste Meesters-gholftoernooi op Augusta National.

Die Amerikaanse Meesters begin Donderdag op Augusta National. Foto: Getty Images

Die wêreld se voorste speler het met ’n laaste rondte van 68 op 20 houe beter as die baansyfer geëindig om Tiger Woods se 1997-wenrekord van 18 beter verby te steek. Dié is in 2015 deur Jordan Spieth geëwenaar.

Eerskomende Donderdag begin die voorste spelers weer op Augusta hul veldtog om daardie gesogte groen baadjie van die wenner aan te trek.

Vyf tergende vrae verdien egter aandag voordat die eerste bofhou klap.

Gaan Johnson sy titel behou?

Dustin Johnson ontvang verlede jaar die gesogte groen baadjie as Meester-kampioen by Tiger Woods. Foto: Getty Images

Die sagter skoonvelde en setperke in November, toe die Meesters laas beslis is, het die Amerikaner soos ’n handskoen gepas. Sy spelpeil toe was ook bo verdenking.

Die triomf op Augusta het beteken Johnson het twee oorwinnings, drie naasbeste posisies en ’n derde plek in ses van sy sewe toernooie in 2020 behaal.

Nog ’n oorwinning in die Saudi International in Januarie en ’n plek onder die toptien in die PGA-reeks het vanjaar gevolg, maar sedertdien is Johnson se spelpeil nie wat dit moet wees nie.

Hy het op die nippertjie ’n uitnodiging ontvang om in die naweek se Texas-ope te speel nadat hy in die groepfase van die Dell-putjiespeltoernooi uitgeskakel is, maar het dit van die hand gewys om tuis vir die Meesters voor te berei.

Dis egter te betwyfel of die verdedigende kampioen voor Donderdag al die krakies in sy mondering uitgesorteer gaan kry.

Kan Pete Cowen vir Rory McIlroy red?

Dis dalk oordrewe om te sê ’n wonderwerk is nodig, maar die feit is die swaaighoeroe Pete Cowen het ’n enorme taak om die Ierse speler Rory McIlroy weer op sy beste te kry.

Die befaamde gholfbreier Pete Cowen (links) sal ’n wonderwerk moet verrig as hy Ierland se Rory McIlroy op dreef wil kry vir die Meesters. Foto: Getty Images

Die viermalige Grand Slam-wenner het die befaamde Cowen by sy afrigtingspan betrek in ’n desperate poging om weer sy peil te vind.

McIlroy is in die eerste groepstryd in die Dell-putjiespeltoernooi met 6 en 5 deur Ian Poulter uitgeskakel. Hy het ná rondtes van 79 en 75 nie die afsnypunt van die Spelerkampioenskap, waar hy as verdedigende kampioen aangetree het, oorleef nie.

Hierdie seisoen het die Ier drie keer onder die toptien in die PGA-reeks geëindig, maar wisselvallig gespeel.

In November was hy gesamentlik vyfde in die Meesters, maar die kanse is skraal dat hy die komende naweek die groen baadjie die eerste keer gaan ontvang om dié ontwykende Grand Slam-titel agter sy naam te skryf.

Hoe gaan Augusta in Mei speel?

Die kort antwoord is: baie anders as in November verlede jaar.

Verskeie spelers het ná oefenrondes die afgelope week of drie gepraat oor die harde skoonvelde en ferm setperke wat Augusta tans bied.

Johnson het gesê in November kon jy met ’n skoonveld-hout die bal langs die vlaggie op die verraderlike 15de (syfer 5) laat land en dit sou daar bly. Met die ferm setperk nou is die bal met dieselfde hou vir die water agter die setperk bestem.

Lee Westwood het middel Maart 54 putjies saam met sy seun, Sam, op Augusta gespeel.

“Die skoonveld was lanklaas so hard. Beslis die hardste wat ek dit nog beleef het. Die baan speel lank, jy moet dodelik akkuraat wees en die setperke is soos ’n klipbank.”

Hoe gaan Bryson DeChambeau dié keer vaar?

Bryson DeChambeau se yslike bofhoue kan hom ’n sterk kandidaat op Augusta National maak. As hy vir vier rondtes kan kophou. Foto: Getty Images

Die fris Amerikaner het in aanloop tot November se Meesters gewys hy is ’n sterk kandidaat ná sy oorwinning met die ses houe in die Amerikaanse Ope twee maande van tevore.

DeChambeau, bekend om sy verstommende lang bofhoue, het gedurende ’n oefenronde voor daardie Meesters, nie een keer meer as ’n 6-yster nodig gehad om setperk toe te mik nie.

Hy het later ietwat omstrede opgemerk Augusta moet volgens hom ’n baansyfer van 67 hê omdat al die syfer 5’s in twee houe gehaal kan word.

Maar gholfgode hou nie van ’n grootprater nie. Die beste rondte wat DeChambeau kon aanteken, was ’n 69 in die derde ronde op Augusta en ’n gesamentlik 34ste plek in dié Grand Slam-toernooi.

Hy het wel in Maart die Arnold Palmer-uitdaagtoenooi gewen en was derde in die Spelerskampioenskap.

Op Augusta het die lang slaners beslis die voordeel, so DeChambeau is iemand om dop te hou.

Is Jordan Spieth oorgehaal vir nog ’n baadjie?

Jordan Spieth se vroeë rekord in die Meesters is eenvoudig verbluffend.

Jordan Spieth is gek oor Augusta National en het reeds een Meesters-titel op sy kerfstok. Hy is tans goed op dreef en straks die sterkste aanspraakmaker op nog ’n titel. Foto: Getty Images

Hy was tweede in sy debuut in 2014, die kampioen in 2015 en die naaswenner ’n jaar later (nadat hy ’n voorsprong met vyf houe oor die laaste nege putjies op die laaste dag weggesmyt het).

In 2017 was sy 11de plek “effens teleurstellend” en in 2018 was hy vir die derde keer in vier jaar die voorloper ná 18 putjies en het hy so amper-amper die groen baadjie voor Patrick Reed se neus weggeraap ná ’n vierde rondte van 64.

’n Insinking in sy spel het hom in Februarie na 92ste op die wêreldranglys laat uitsak, maar nou is hy weer vuurwarm met vier plekke onder die voorste tien in ses toernooie en ’n sege in die naweek se Texas-ope, sy eerste kroon in 1 351 dae.

Spieth is waarskynlik die sterkste Meesters-kandidaat op ’n baan waar hy bykans nooit sukkel nie. – Sportredaksie, TeamTalk

Meer oor:  Amerikaanse Meesterstoernooi  |  Meesters  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.