Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Lang wag is nou verby
Danny Willett (heel regs) en Luke Donald (derde van links) tydens gister se laaste ronde. Foto: Gallo Images

Die laaste keer dat ’n gholfspeler die Nedbank-uitdaagtoernooi se kristaltrofee met sy eerste probeerslag verower het, het die Berlynse muur nog gestaan.

Die Australiër Greg Norman was die wêreld se voorste speler – en Danny Willett was nog nie eens gebore nie.

Dit was in Desember 1986 en die Zimbabwiër Mark McNulty sou nooit kon droom dat sy naam 28 jaar later steeds ’n sonderlinge plekkie in dié uitdaagtoernooi sou hê nie.

Aanstaande jaar sal bogenoemde paragraaf aansienlik anders lyk. Want danksy Willett se skittervertoning op Sun City se spogbaan, is hy nou die laaste speler wat die uitdaagtoernooi in sy debuut kon wen.

Dié 27-jarige het boonop gemaklik gewen. Hy het sy Engelse landgenoot Ross Fisher met vier houe verslaan en ná vyf jaar uiteindelik in Suid-Afrika geseëvier.

Willett het ses voëltjies in sy foutlose laaste ronde van 66 (ses houe minder as baansyfer) aangeteken om met ’n wentotaal van 270 (-18) van die Gary Player-buiteklub af weg te stap.

Fisher het moedig probeer met ’n 68 (-4), maar die drie brouhoue op sy kaart het sy kanse op kritieke tye geknou.

Luke Donald, wat gister 37 jaar oud geword het, het gisteroggend ’n voorsprong van een hou gehad het, maar ses houe agter Willett in die derde plek geëindig.

Die dag het begin met een van Donald, Fisher en Willett wat ’n realistiese kans op glorie gehad het.

Dit was vroeg reeds duidelik dat niemand hongerder as Willett (die jongste van dié drie) was nie.

Danksy voëltjies op die tweede, derde en vyfde putjies, teenoor brouhoue op die derde en vyfde vir Donald, het Willett se agterstand van een hou in ’n japtrap in ’n voorsprong van vier houe verander.

Die vyfde putjie was uiteindelik die waterskeiding. Waar Willett ’n lang voëltjie-sethou ingerol het, het Donald se bofhou regs getrek en Fisher het gesukkel om op die setperk te kom. Willett het ’n hou gewin, terwyl albei sy teenstanders ’n hou aan baansyfer afgestaan het.

Daarna het die jongeling van krag tot krag gegaan. Donald het gesukkel om op die skoonvelde te bly en Fisher se setyster het hom ’n paar keer in die steek gelaat.

Willett het oor die laaste nege putjies met drie verdere voëltjies seker gemaak van die kroon. Vir sy moeite is hy beloon met ’n wentjek van $1,25 miljoen (meer as R14 miljoen). Sy vorige grootste betaaldag was R6,6 m.

Sy Nedbank-sege is ook sy tweede in die Europese reeks en plaas hom nou binne spoegafstand van die top-50 op die wêreldranglys.

Vir Suid-Afrika was die laaste drie dae vreugdeloos. Tim Clark (72) en Louis Oosthuizen (73) het die beste van die tuisspelers gevaar en gesamentlik sewende geëindig – ’n yslike 15 houe agter Willett.

Danie van Tonder het 29ste geëindig, maar die baan met ’n glimlag verlaat danksy ’n tjek van R1,1 m en ’n blinknuwe Tag Heuer-horlosie vir sy arend op die negende putjie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.