SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Gholf
Aasvoëls sirkel om Sergio in die Sonstad
Die Spanjaard Sergio Garcia speel Vrydag ’n hou uit die sandkuil op die 16de putjie tydens die tweede ronde van die Nedbank-uitdaagtoernooi op die Gary Player-baan. Foto: Getty Images

Sergio Garcia is steeds die voorloper by die halfpadmerk van Nedbank se uitdaag-gholftoernooi by Sun City, maar in dié Spaanse Matador se truspieël is daar heelwat spelers wat op hom afpyl.

Nadat hy op die eerste aand gaan slaap het met ’n gerieflike voorsprong van vier houe, sal hy Saterdagoggend wakker word met net een hou tussen hom en sy naaste teenstander, Suid-Afrika se Louis Oosthuizen.

Garcia het ’n dag van gemengde sukses beleef, met vyf voëltjies wat ongedaan gemaak is deur vier brouhoue in sy ronde van 71 (een hou minder as baansyfer).

Louis Oosthuizen volg die trajek van die bal ná ’n kaphou op die 14de putjie. Foto: Getty Images

Hy is op nege onder syfer net daardie enkele hou voor Oosthuizen, wat 67 houe gespeel het. Die Suid-Kapenaar was vuurwarm. Hy het sewe voëltjies aangeteken en net skeef getrap by die moeilike agtste putjie, waar hy ’n dubbele brouhou aangeteken het.

Daar is egter ’n spul spelers wat soos aasvoëls binne bereik van Garcia draai.

Die Fin Mikko Korhonen is op 6-onder, met sy landgenoot Tapio Pulkkanen slegs een hou verder terug.

Dan volg vier spelers op 4-onder. Hulle is die Suid-Afrikaner Dylan Frittelli, wat ’n 67 op sy telkaart ingevul het, asook die Engelsmanne Lee Westwood (69) en Aaron Rai (68) en die Ier Shane Lowry (69).

Daar is agt spelers op 3-onder. Hieronder tel die Suid-Afrikaners Darren Fichardt (67) en die verdedigende kampioen, Branden Grace (71).

Garcia het twee brouhoue oor die laaste drie putjies gehad, insluitende ’n drieset op die laaste, wat die idee gewek het dat sy setyster die vorige nag in die koelkas gebêre is.

Sake kon selfs erger vir hom gewees het, want op die 17de was hy ’n polonieskil-breedte weg daarvan om sy naderhou buite perke te slaan.

Oosthuizen, wat Saterdag saam met Garcia sal speel en nou baie hard in sy nek blaas, het met die uitsondering van die ses op die agtste, bestendige en goeie gholf gespeel.

“Ek is gelukkig met my rondte,” het hy gesê. “

Ek het die handrem nou wel opgetrek daar op die agtste, maar in die geheel het ek goed gespeel en was veral my ysters na die setperke glad nie sleg nie.
Louis Oosthuizen

“Die wind was weer baie wisselvallig en het sake bemoeilik. Jy kon dit nooit regtig peil nie,” het die Suid-Kapenaar gesê.

“Jy moet nou maar eenvoudig geduldig wees op hierdie baan. Vir my sal dit baie spesiaal wees om Sondag hier voor die tuisskare te kan wen.”

Terwyl Oosthuizen Vrydagaand heel tevrede sou gaan slaap het, het ’n nag van rondrol en nagmerries op sy vriend Charl Schwartzel gewag.

Charl Schwartzel

Nadat hy die eerste dag in die gesamentlike tweede plek afgesluit het, het Schwartzel Vrydag ’n telkaart met ’n liederlike 79 (sewe houe meer as syfer) daarop ingedien. Hy is nou drie houe oor syfer en in die gesamentlike 45ste plek.

Die grootste ramp in sy ronde was by die syfer-4 vyftiende putjie, waar hy ’n 10 aangeteken het. Daardie ses houe wat hy op die een putjie verloor het, het die bodem uit sy dag geruk.

Hy kon net een voëltjie behaal en sal dié dag so gou as moontlik wil vergeet.

Die 15de was ’n groot struikelblok vir verskeie spelers. Die Engelsman Ross Fisher, wat in ’n stadium tweede was ná Garcia, het ’n 9 daar aangeteken nadat hy sy lyf boskapper tussen die bome gehou het.

Die Spanjaard Jorge Campillo het ’n 7 op sy telkaart ingevul.

Die groot trekpleister by vanjaar se toernooi, die Noord-Ier Rory McIlroy, kon weer nie aan die gang kom nie. Hy het 71 houe gespeel en is op een onder syfer. Hy sal Saterdag moet vlamvat indien hy homself in ’n posisie wil plaas om Sondag nog aanspraak te kan maak op die kristaltrofee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.