Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
AB, vriend speel saam in gholftoernooi

Toe AB de Villiers ’n uitnodiging aanvaar het om vandeesweek in die Origins of Golf Pro-Am-toernooi by die Sishen-gholfbaan in Kathu te speel, was daar by hom geen twyfel oor wie hy as sy beroepspeler-spanmaat wou hê nie.

Die Sonskynreeks-speler Chris “Swannie” Swanepoel is immers al van kleintyd af een van die voormalige Protea-kaptein De Villiers se boesemvriende.

Chris Swanepoel, ’n beroepsgholfspeler wat in die Sonskynreeks speel, en sy jare lange vriend, die voormalige Protea-krieketkaptein AB de Villiers, gaan saam aan die Origins of Golf-toernooi in Kathu deelneem. Foto: Tyrone Winfield

De Villiers, Swannie, Johan “Skippie” Scheepers en Stoffel de Beer het altyd saam gholf en allerlei ander sporte gespeel toe hulle in Bela Bela (voorheen Warmbad) grootgeword het.

“Ons almal se pa’s was vriende en het saam gholf gespeel,” vertel Swanepoel, wat al vier titels in die Sonskynreeks gewen het.

Swanepoel onthou hoe hy, Skippie en Stoffel altyd een doel voor oë gehad het.

“Dit was om vir AB te probeer klop. In enigiets. Van jongs af was AB reeds ’n freak in alle sporte. Hy het nooit swem geoefen nie, maar in ’n swembad geklim en water in ons almal se oë gespat.

“Krieket, atletiek, tennis en rugby – hy was fenomenaal in alles. Al wat ons wou doen, was om vir AB te klop.”

Swanepoel sê hy het selfs op ’n tyd gesukkel om De Villiers in gholf te klop.

“Hy was eintlik beter as ek in gholf tot in graad 10. Toe het hy op krieket begin fokus, maar ons het steeds byeengekom om die Sundowner-kompetisie by die Warmbad-gholfklub te speel. Die ouer lede het begin kla omdat ons die kompetisie altyd gewen het.”

Die vier van hulle het nog altyd vriende gebly.

“Daar is niks soos ’n behoorlike vriendskap nie. Ons kry soms stry, maar dit hou nooit langer as ’n halfuur nie. Ons kinders is nou vriende, so dit is ’n lekker lewenstorie van hoe daardie vriendskap voortduur.”

De Villiers is ’n uitstekende vriend, sê Swanepoel.

“Hy is die mees beskeie beroepsportman wat daar is. Hy tel onder die bestes wat ooit krieket gespeel het, maar hy is die mees plat op die aarde mens wat jy ooit sal ontmoet.

“Sy skedule is soms besig, maar ons maak altyd ’n plan om by mekaar uit te kom.

“Dit is die tipe vriendskap wat jy in ’n klein dorpie kry.” – Michael Vlismas Media

Meer oor:  Ab De Villiers  |  Sonskynreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.