Die Argentynse gholfspeler Ángel Cabrera, ’n voormalige VSA-Ope- en Meesterstoernooi-wenner, is die afgelope week in Brasilië gearresteer in verband met aanrandingsklagte wat in sy geboorteland teen hom ingedien is.

Ángel Cabrera, die Argentynse gholfspeler, is in Rio de Janeiro in hegtenis geneem. Foto: Getty Images
In ’n polisieverklaring oor die inhegtenisneming op grond van misdade wat tussen 2016 en 2020 in Argentinië gepleeg is, is Cabrera nie op die naam genoem nie, maar ’n Argentynse diplomaat het bevestig dat dit die gholfspeler is.
Claudio Gutiérrez sê Cabrera is na ’n tronk in Rio de Janeiro geneem hangende uitleweringsprosedures.
Volgens die polisieverklaring is die 51-jarige Argentyn wat op Interpol se rooilys was, by ’n woonstel in Rio de Janeiro se Leblon-distrik vasgetrek.
Cabrera, ook bekend as El Pato (Die Eend), het in 2007 die Amerikaanse Ope-kampioenskap gewen en in 2009 die Meesterstoernooi.
Hy is tans ’n lid van die PGA-Kampioenskap-toer, met sy laaste toernooi wat in September 2020 was.
Die PGA-toer gee sy totale loopbaan-verdienste as $14,7 miljoen aan. – Reuters