Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Fokus op gholf
Meesters bied in November uitdagings

Die senuwees gaan behoorlik knaag op die openingsbof onder die spelers in vanjaar se Amerikaanse Meesters op Augusta.

Weens die feit dat die son vroeër sak in November is die organiseerders gedwing dat spelers vanjaar op twee bowwe sal moet afslaan.

Dit gaan beteken dat die helfte van die veld van die 10de bof sal afslaan en die 10de putjie het die reputasie as die moeilikste putjie op die Augusta-baan, met ’n gemiddelde telling van 4.31.

Waar spelers in die verlede gewoonlik hul tweede hou na die eerste setperk met ’n 6 tot 8 yster gespeel het, is die kanse baie goed dat spelers ’n 3 of 4 yster sal moet slaan. Die rede daarvoor is eenvoudig – in November speel die Augusta-baan langer as in April.

AUGUSTA, GA - APRIL 09: Fred Couples hits off the
Fred Couples. Foto: Getty Images

Freddy Couples was in 2006 derde in die Meesters. In November daardie jaar het hy ’n paar rondes op Augusta gaan speel. In ’n onderhoud met Golf.com het hy vertel hoeveel langer die baan in November speel.

“Dit was koud en nat en op die eerste dag het ek ’n drywer en ’n 2 yster geslaan op die 1ste putjie. Die volgende dag het die wind weer gewaai en ná my bofhou op die 1ste putjie moes ek ’n 3-hout slaan.”

En almal wat gholf volg, weet dat Couples ’n lang slaner is. In 2006 was sy gemiddelde dryfafstand in die PGA-reeks meer as 300 treë.

Die heersende wind gedurende April op Augusta kom vanuit die suide, maar in November is dit gewoonlik ’n noordewind.

Trevor Immelman, Meesters-kampioen van 2008, sê met ’n noordewind van voor gaan drie van die syfer 5-putjies – die 8ste, 13de en 15de – heelwat langer speel. “Die spelers gaan beslis getoets word as hulle met ’n lang yster in die hand die setperke van hierdie syfer 5-putjies wil teiken.”

Een van die weinige spelers in die veld wat Augusta al in November gespeel het, is Sebastin Munoz van Colombia. Hy het laas November op die baan gaan speel ter voorbereiding van sy eerste Meesters (wat in April sou plaasvind). Hy het die baan baie lank ervaar en op die 11de putjie het hy ’n 3-yster benodig vir sy naderhou.

Augusta is bekend vir sy blitsvinnige setperke en die verwagting is dat die setperke se spoed nie juis anders gaan wees as wat dit gewoonlik in April is nie.

Die rede daarvoor is dat onder elke setperk ’n pompstelsel geïnstalleer is wat die baanbestuur in staat stel om die setperke in top-toestand te hou. Wanneer die setperke te nat word, word die klammigheid uitgesuig en wanneer die setperke te droog raak weens hitte word koel lug ingeblaas.

Ofskoon die gewilde mening is dat die lang slaners die Meesters gaan oorheers, kan November se veranderde weerstoestande dalk vir ’n verrassing sorg.

Gedurende die Meesters van 2007 was dit koud en die wind het sterk bly waai. Die wenner was Zach Johnson en die merkwaardige feit van sy sege, was dat hy gedurende die toernooi nie een keer probeer het om ’n syfer 5 se setperk binne twee houe te bereik nie.

Meer oor:  Augusta  |  Gholf  |  Amerikaanse Meesters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.