Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Augusta wys net die bestes gaan hom tem

Die Augusta National-gholfbaan het Donderdag, op die eerste dag van die 85ste Amerikaanse Meesters, gewys hy gaan nie sommer maklik ore aangesit word nie.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout speel Donderdag ’n bofhou op die eerste dag van die Amerikaanse Meesters op die Augusta National-baan.Foto: Getty Images

Anders as met die 84ste Meesters, wat in November verlede jaar beslis is, was speeltoestande dié keer in die kategorie wat bloot as “uitdagend” beskryf kan word.

Die harder skoonvelde en blitsiger setperke het spelers Donderdag uit die staanspoor getoets.

En toe die wind ná ’n koel, maar feitlik stil oggendsessie begin spoed optel, was daar bykomende kopsorge vir die voorste beroepspelers ter wêreld.

Die Amerikaner Brian Harman het dié uitdagings oorkom en was die vroeë voorloper terug in die klubhuis, met ’n baie verdienstelike telling van 69, drie beter as die baansyfer.

Sy landgenoot Will Zalatoris was een hou agter hom ná sy eerste ronde, gevolg deur Si Woo Kim van Korea op 71.

Met die druktyd was daar egter sterk lopies deur verskeie spelers wat nog ’n handvol putjies gehad het om te voltooi.

Voor in die koor was die Amerikaners Webb Simpson en Marc Leishman wat op vier beter as die baansyfer die pas aangegee het, met onderskeidelik drie putjies en agt putjies om te speel.

Hideki Matsuyama van Japan, op drie beter as die baan ná 17, was ook ’n vroeë touleier.

Christiaan Bezuidenhout, die Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, was ná ’n puik eerste nege op drie houe beter as die baansyfer en het tot kort voor die druktyd aan dié telling vasgeklou met syfertjies van die 10de tot die 13de putjie.

Op die 14de (syfer) het hy egter sy eerste brouhou van die dag begaan.

Maar dit kon al op die 12de (syfer 3) gebeur het.

Hier het hy ’n gewisse nagmerrie gesystap toe sy set vir voëltjie van die kant van die setperk af die blikkie met spoed tref.

Die bal se momentum is gestuit en dit het ’n halwe meter verder tot stilstand gekom. Hy het dié een ingerol.

Bezuidenhout het hom kennelik misgis met die spoed van die setperk. Het hy die blikkie dáár gemis, sou ’n bykans onmoontlike syferset sy voorland gewees het.

Maar dis die tipe geluk wat spelers op dag een nodig gehad het in toestande wat veel meer dinkwerk as in November se Meesters geverg het.

Die meeste spelers het gesukkel met die keuse van ysters vir naderhoue en daar is vooraf gewaarsku – as jy nie op die baan akkuraat is op pad setperk toe nie, gaan jy gestraf word.

En as jy nie jou sette met groot omsigtigheid benader nie, kan dit ’n lang dag word.

Die Engelsman Ian Poulter moes vir ’n 74 op sy telkaart teken.

So ook die Suid-Afrikaner Charl Schwartzel, wat ’n wipplank-ronde beleef het met ses brouhoue en vier voëltjies.

Die Wallieser Ian Woosnam en nog ’n Suid-Afrikaner, Dylan Frittelli, moet elk met ’n 76 tevrede wees, terwyl Rory McIlory met die druktyd reeds op vyf swakker as die baansyfer was, met vier putjies om te speel.

Meer oor:  Amerikaanse Meesterstoernooi  |  Augusta  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.