Die Australiese gholflegende Greg Norman, wat 331 weke tydens sy loopbaan in die voorste plek op die wêreldranglys deurgebring het, is gehospitaliseer nadat hy Covid-19-simptome begin wys het.

Greg Norman hou verlede week sy bal dop ná ’n hou by die PNC-kampioenskap in Florida, Amerika. Foto: Getty Images
Norman, wat titels by die Britse Ope in 1986 en 1993 verower het, het vroeër negatief getoets vir die koronavirus, maar het Vrydag ’n foto van hom op ’n hospitaalbed in die VSA geplaas.
Die foto se onderskrif was: “F** Covid!”
’n Dag vroeër het hy gesê dat hy ligte simptome ervaar wat “potensieel Covid” kon wees.
“Ek voel verkouerig. Ek het ’n redelike koors, ek hoes, ek het seer en pyne, ek het ’n redelike hoofpyn, so ek is in selfkwarantyn,” het die 65-jarige Donderdag gesê.
Sy seun, ook Greg, het op sy sosiale media bevestig dat hy en sy vrou positief vir die Covid-19-siekte getoets is en besig was om te selfisoleer.
Norman en sy seun het verlede week saam gespeel by die PNC-kampioenskap in Orlando, Florida. – Reuters