Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Beroepsgholf in SA hervat met nuwe reeks

Beroepsgholf in Suid-Afrika haal weer asem met die Sonskynreeks wat vandeesmaand hervat word.

Morgan Fairbairn by die Houghton-gholfklub in aksie kort nadat ’n verslapping in inperkingsmaatreëls gholfbane toegelaat het om weer hul deure te open. Foto: Gallo Images

Daar gaan vyf toernooie in Gauteng beslis word in ’n reeks wat as Rise-Up bekend sal staan.

Die eerste toernooi is van 19 tot 21 Augustus by die Killarney-gholfklub, waarna daar na Glendower beweeg word van 26 tot 28 Augustus. Die Pretoria-buiteklub speel van 2 tot 4 September gasheer vir die derde toernooi, met die ERPM-gholfklub aan die Oos-Rand wat die aksie sal beleef van 23 tot 25 September.

Die laaste toernooi in die reeks van vyf, met prysgeld van R600 000 wat elk oor 54 putjies beslis word, is van 30 September tot 2 Oktober by Huddle Park-gholfbaan.

Hierdie toernooie sal gespeel word kragtens die Covid-19-strategie wat voorgestel is deur GholfRSA en goedgekeur is deur die departement van sport. Die laaste ronde van elke toernooi sal regstreeks gebeeldsend word op die Sonskynreeks se platforms en DStv Now.

Selwyn Nathan, die Sonskynreeks se toer-kommissaris, sê hulle is verheug om die terugkeer van toernooigholf in Suid-Afrika te kan aankondig en is veral dankbaar vir die borgskappe van Betway en African Bank.

“Dit was ’n lang wag vir ons beroepspelers en ons borge, en ons bedank hulle vir hul geduld en verdraagsaamheid met die hele situasie.”

Dit was ’n lang wag vir ons beroepspelers en ons borge, en ons bedank hulle vir hul geduld en verdraagsaamheid met die hele situasie.
Selwyn Nathan

Hy glo hulle sal toernooigholf op ’n veilige, verantwoordelike en beheerbare wyse kan laat hervat.

Die Sonskynreeks het nou saamgewerk met GholfRSA om seker te maak hulle voldoen aan al die Covid-19-voorkomingsvereistes wat nodig was om toernooie te kon aanbied.

Slegs die beroepspelers en hul geregistreerde joggies, sowel as Sonskynreeks-personeel en -beamptes en ’n beperkte aantal media en TV-personeel sal by elke toernooi toegelaat word.

Die spelers en hul joggies sal saam met toernooipersoneel aan Covid-19-toetse onderwerp word voor die begin van die Rise-Up-reeks en hulle sal op die amptelike HealthDocs-platform gemonitor word.

Daar sal daaglikse siftingstoetse wees en almal wat die perseel betree waar die toernooie plaasvind sal deeglik gemonitor word.

Selwyn Nathan (links) saam met Branden Grace en Geoff Makhubo (Johannesburg se burgemeester) nadat Grace die Suid-Afrikaanse Ope in Januarie gewen het. Foto: Gallo Images

Geen toeskouers of enigeen wat die spelers wil bystaan of ondersteun sal by toernooie toegelaat word nie. Daar sal ook geen gasvryheidsgeriewe wees waar die spelers en joggies onthaal sal word nie.

Al gaan daar nou nie die atmosfeer heers wat beroepspelers sou wou hê nie, sal dit gewis ’n geval wees dat hulle maar net te dankbaar sal wees om hul beroep weer te beoefen en op die skoonvelde en setperke ’n inkomste in ’n mededingende omgewing te verdien.

“Ons wil verseker dat geen van ons beroepspelers of personeel op enige manier blootgestel word aan die risiko om die virus op te doen nie.

“Ons is vol vertroue ons het elke moontlike stap gevolg om nie net van hierdie reeks ’n suksesvolle terugkeer na beroepsgholf te maak nie, maar om ook die Rise-Up-reeks aan boord van die Sonskynreeks se gesin te verwelkom. Dit sal die gees van sport verteenwoordig en om die gemeenskap in hierdie moeilike tye op te hef,” sê Nathan.

Meer oor:  Selwyn Nathan  |  Johannesburg  |  Sonskynreeks  |  Gholf  |  Beroepsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.