Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Bezuidenhout pronk op Leopard Creek

Dit was Sondagmiddag op die Leopard Creek-gholfbaan buite Malelane ’n geval van local is lekker vir Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout toe hy die Dunhill-kampioenskap gewen het.

Vreugde vir Christiaan Bezuidenhout nadat hy die Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek met vier houe gewen het. Foto: Getty Images

Bezuidenhout, wat Sondagoggend drie houe agter die voorloper, die onbesonge Adrian Meronk van Pole afgeslaan het, het ondanks drie houe wat hy oor die eerste nege putjies aan baansyfer afgestaan het, sy tweede titel in die Europese reeks beklink.

Hy het die laaste ronde in 69 houe voltooi en het op 274 houe (14 onder baansyfer) vier houe voor sy naaste teenstanders, Meronk, die Amerikaner Sean Crocker (’n gebore Zimbabwiër), die Engelsman Richard Bland en die 19-jarige Suid-Afrikaner Jayden Schaper geëindig.

Bezuidenhout se pad na roem was vol dorings, soos hy verlede jaar op sy blog geskryf het nadat hy die Andalusiese Meesterstoernooi in Spanje gewen het.

Bezuidenhout het as 2-jarige per ongeluk rotgif gedrink en was byna dood. Hy het daarna angsaanvalle gekry en het ook begin hakkel.

Maar hy het al dié probleme op merkwaardige wyse oorkom en is op 26-jarige ouderdom saam met Schaper en Wilco Nienaber die jong Turke van SA gholf.

Bezuidenhout, wat reeds in Februarie tussen die wêreld se voorste 50 spelers ingeskuif het, spog reeds daarmee dat hy in al vier major-toernooie afgeslaan het.

Hy het verlede maand onder die voorste 40-spelers in sy eerste Amerikaanse Meesterstoernooi op Augusta geëindig.

“Dis ongelooflik,” het hy Sondag ná sy oorwinning op Leopard Creek aan europeantour.com gesê.

“Hierdie toernooi lê baie na aan my hart sedert ek die eerste keer daarin gespeel het. Dit was altyd ’n toernooi wat ek wou wen en om dit reg te kry, is baie spesiaal.

“Ek het op Augusta ’n oefenronde saam met Louis (Oosthuizen) en Charl (Schwartzel) gespeel. Hulle het gesê dat jy jou benadering (op Leopard Creek) sal moet verander oor die nuwe gras wat aangeplant is.

“Ek het nooit só daaroor gedink nie en ek het met ’n ander ingesteldheid hier opgedaag.”

Schaper, wat net een hou agter Meronk afgeslaan het, se aanslag het op die 10de putjie gekwyn ná ’n windskeef bofhou en hy uiteindelik drie houe meer as baansyfer op sy telkaart ingevul het.

Schaper het wel drie voëltjies aangeteken, maar ook op drie putjies oor die laaste agt putjies houe aan syfer afgestaan vir ’n 75.

Meronk het, soos die meeste ander deelnemers, gesukkel in winderige toestande en ’n brouhou op die 13de putjie, gevolg deur ’n dubbele brouhou op die volgende putjie, het die wind uit sy seile gehaal.

Bland het vier voëltjies aangeteken, maar ook twee keer houe aan baansyfer afgestaan.

Die Engelsman Marcus Armitage, Spanje se Adri Arnaus, die Skotte Scott Jamieson en Robert MacIntyre en die Fransman Alexander Levy was saam sesde.

• Bezuidenhout het R5,09 miljoen met sy oorwinning verdien. – europeantour.com, Sportredaksie

FINALE TELLINGS

Meer oor:  Leopard Creek  |  Gholf  |  Christiaan Bezuidenhout
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.