Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Bezuidenhout vir eerste keer in top-50

Die Delmas-boorling Christiaan Bezuidenhout het nie net Sondag ’n droom bewaarheid toe hy in die Dimension Data Pro-Am-toernooi by Fancourt geseëvier het nie, maar ook ’n tree nader aan die Amerikaanse Meesterstoernooi gegee.

’n Ingenome Christiaan Bezuidenhout ná sy Dimension Data-sukses. Hy bevind hom nou vir die eerste keer in die top-50 op die wêreldranglys. Foto: Gallo Images

Bezuidenhout het die titel gewen nadat ’n arend by die laaste putjie van die Montagu-baan hom verby George Coetzee tot in die wenkampie gelanseer het. Coetzee was ná ’n ronde van 66 (-6) die klubhuis-voorloper op 265 (24-onder), maar danksy sy arend by die 18de het Bezuidenhout geëindig op 264 (25-onder).

Danksy dié sege bevind die 25-jarige Bezuidenhout hom nou vir die eerste keer in die top-50 op die ranglys, in die 48ste posisie. Die pad na Augusta is nog lank, maar as hy in die top-50 kan bly tot die eerste week van April, sal ’n uitnodiging na die jaar se eerste major-toernooi in sy posbus beland.

Terwyl dít nog nie gewaarborg is nie, is Bezuidenhout wel reeds verseker van deelname aan ’n ander groot toernooi: die WGC St Jude-uitnodigingstoernooi in Memphis, Tennessee. Dit sal wel nie sy eerste WGC-toernooi van die jaar wees nie; hy is reeds op pad na Mexiko, vir vandeesweek se WGC Mexiko-kampioenskap.

Die room van wêreldgholf sal daar wees, sodat nog ’n goeie uitslag Bezuidenhout verder op die wêreldranglys kan help klim.

“Ek wou nog altyd my naam op (die Dimension Data-trofee) kry en ek het nou, so ek is heel in my noppies,” het Bezuidenhout Sondag aan die Europese reeks se webtuiste gesê. “Nou gaan ons net aan. Ek sal aanhou om my bes te doen en deur my prosesse te gaan. Ek en my afrigter werk aan ’n paar goeie dinge, so hopelik kan ons dit volhou.”

Ook Adam Scott kon Sondag breed glimlag, ná ’n sege by Riviera hom terug in die top-10 op die wêreldranglys gekry het. Foto: AP

* In nog ’n betekenisvolle skuif op die wêreldranglys is die Aussie Adam Scott vir die eerste keer sedert Mei 2017 terug in die top-10, nadat hy Sondag die Genesis-uitnodigingstoernooi by die Riviera-buiteklub in Kalifornië gewen het.

Scott het 2019 afgesluit deur die Australiese PGA-kampioenskap te wen en eers verlede week weer teruggekeer na kompetisie-gholf.

“Almal herinner my dat ek vanjaar 40 word – ek weet nie of hulle daarmee insinueer dat dit die begin van die einde is nie,” het die Aussie aan die PGA-reeks gesê. “Sonder twyfel is die ouens op die kruin van die golf jonger en daar is minder oorheersende spelers in hul veertigs.

“Maar ek voel op die oomblik bevoorreg. Ek is so gesond as wat ’n 39-jarige gholfspeler kan wees en gaan die meeste daarvan maak terwyl ek daarbuite is. Ek glo die volgende vyf jaar kan my beste op toer wees as ek my motivering en fokus behou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.