Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Boodskap van Tiger sy motivering

Bryson DeChambeau sê ’n boodskap van bemoediging wat hy Sondag voor die laaste ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi van Tiger Woods gekry het, was ’n groot bron van motivering.

Bryson DeChambeau juig uitbundig nadat hy Lee Westwood op die 18de putjie verslaan het in die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi. Foto: Getty Images

Nadat DeChambeau die Engelsman Lee Westwood met een hou op die Bay Hill-baan geklop het, het hy gesê Woods, wat in die hospitaal aansterk ná ’n ernstige ongeluk, het voordat hy afgeslaan het vir hom ’n boodskap gestuur.

DeChambeau, wat die dag met ’n telling van 71 houe (-1) afgesluit het vir ’n totaal van 277 (-11), het ’n sethou op die laaste putjie ingerol vir syfer om Westwood (73) te klop.

Die fris Amerikaner was na aan trane toe hy verduidelik hoe betekenisvol dit vir hom is om die toernooi van die legendariese Palmer te wen.

Woods is self ’n agtmalige wenner van dié toernooi.

“Ek het vanoggend ’n boodskap van Tiger gekry . . . ons het gepraat oor hoe belangrik dit is om aan te hou veg, ongeag wat gebeur en om so onverskrokke te speel soos mnr. Palmer.”

Die Amerikaanse Ope-kampioen het die dag een hou agter Westwood begin en het op die eerste putjie ’n brouhou aangeteken.

Hy het nie toegelaat dat ’n uitdagende Bay Hill-baan hom van stryk bring nie en het met ’n verstommende bofhou van 345 m oor die water op die sesde putjie ’n voëltjie op sy telkaart ingevul.

DeChambeau sê hy het met ’n “swaar hart” gespeel ná die teëspoed wat Woods gehad het.

“Dit is sleg dat hy dit moet deurmaak en ek het myself die hele tyd daaraan herinner dat dit nie daaroor gaan hoeveel keer jy teen die grond is nie, dit gaan oor hoeveel keer jy opstaan en aanhou probeer.

“En dit is wat ek vandag met daardie benadering vermag het.”

Die 26-jarige Christiaan Bezuidenhout het van die Suid-Afrikaners die beste gevaar.

Hy het hom met opeenvolgende voëltjies op die vyfde en sesde putjies in DeChambeau en Westwood se geselskap bevind, maar ’n brouhou op die 17de en ’n dubbele brouhou op die 18de het sy goeie dag ongedaan gemaak.

Dié boorling van Delmas se 73 (+1) in die laaste ronde was steeds goed genoeg vir ’n sewende plek – ses houe agter DeChambeau.

Bezuidenhout het danksy dié stewige vertoning met drie plekke verbeter op die jongste wêreldranglys en beklee nou die 34ste posisie. Louis Oosthuizen (22ste) bly Suid-Afrika se voorste speler op die ranglys. – Reuters

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Bryson Dechambeau
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.