Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Brooks kla oor JB se stadige speltempo

Brooks Koepka is nie beïndruk met sy Amerikaanse landgenoot J.B. Holmes nie oor wat hy beskou as ’n stadige speltempo in Sondag se laaste ronde van die Britse Ope-gholftoernooi.

Brooks Koepka (regs) en sy joggie wag Sondag by die 1ste setperk op die Royal Portrush-baan in Noord-Ierland. Foto: Getty Images

Koepka se visier was gerig op sy vyfde major-titel in 10 pogings, maar het sy vierde ronde op die Royal Portrush-baan in 74 houe, drie meer as die baansyfer, voltooi om op 278 gesamentlik vierde te eindig.

Holmes het in die gure weerstoestande in Noord-Ierland vir die grootste hartseer verhaal van die dag gesorg. Hy het Sondag slegs vier houe agter die uiteindelike wenner, die Ier Shane Lowry, in die vierde ronde afgeslaan.

Holmes het ’n liederlike 87 houe, 16 meer as die baansyfer, op sy telkaart ingevul nadat hy die tweede nege in 46 houe voltooi het. Hy het van die derde plek tot 67ste afgeskuif.

Koepka, eerste op die wêreldranglys, was duidelik gefrustreerd met hoe lank Holmes neem tussen houe en het in ’n stadium na sy gewrig beduie om aan te dui dat die tyd aanstap.

Holmes is juis bekend as een van die stadigste spelers in beroepsgholf.

J.B. Holmes is berug as een van die stadigste spelers in beroepsgholf. Foto: Getty Images

“Daar was tye wat ek gevoel het dit is stadig,” sê Koepka volgens Stuff.

“Daar is baie stadige spelers daar buite. Dit is nie die eerste keer wat ek dit gedoen het nie, veral wanneer ’n beampte jou op jou ronde vergesel.

“Ek is meeste van die tyd gereed om te speel. Dit is wat ek nie verstaan nie – hoe wanneer dit jou beurt is om te speel, het jy nog nie handskoene aangetrek nie, dan begin jy eers daaroor dink.

“Dit is waar die probleem begin. Dit is nie dat hy te lank vat nie. Hy doen net eenvoudig niks nie totdat dit sy beurt is om sy hou te speel. Dit is die frustrerende aspek, maar hy is nie die enigste sondebok nie.”

Volgens Koepka slaag die Europese reeks baie beter daarin om stadige speltempo te hanteer as die PGA-reeks.

* Die onbesonge 32-jarige Lowry het die toernooi met ’n allemintige ses houe gewen.

Lowry (269) het ses houe voor die Engelsman Tommy Fleetwood (275) geëindig, met die Amerikaner Tony Finau (277) alleen in die derde plek.

Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen, wat die ergste toestande vrygespring het, het saam met Erik van Rooyen (albei 283) in die gesamentlike 20ste plek geëindig.

Dylan Fritelli, wat Vrydag nog stewig in die wedloop was, kon nie die gure toestande in die laaste ronde bemeester nie en het 78 houe (+7) aangeteken. Hy het saam met Ernie Els in die gesamentlike 32ste plek geëindig.

Meer oor:  Gholf  |  Brooks Koepka  |  Britse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.