Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Christiaan, Jamie deel SA Ope-kollig

Vir ’n uur of wat Vrydagmiddag het dit gelyk of Jamie Donaldson die hoofopskrifte ná die tweede dag van die Suid-Afrikaanse Ope sou opeis – maar toe vind Christiaan Bezuidenhout sy visier.

Christiaan Bezuidenhout is steeds op koers om ’n tweede Europese titel in soveel weke te wen.Foto: Gallo Images

En tog was alleenreg op die opskrifte Bezuidenhout ook nie beskore nie, want ’n verbroude kort sethou op sy laaste putjie van die dag het ’n stok in sy speek op ’n andersins skitterende gesteek.

Die Wallieser Donaldson en Delmas-boorling Bezuidenhout is ná 36 putjies van die SA Ope by Sun City saam voor, op 10-onder, ná hulle die meeste van perfekte speeltoestande by die Gary Player-buiteklub gemaak het.

Donaldson, ’n driemalige Europese wenner en voormalige Ryderbeker-speler, het die Groen Monster behoorlik bloedneus geslaan in ’n ronde van 63 (nege houe minder as baansyfer) wat tien voëltjies ingesluit het.

Die 45-jarige het boonop Lee Westwood se baanrekord van 62 net misgeloop ná ’n uitstekende kaphou vir arend by die 18de net-net verby die blikkie geskuur het.

Donaldson het vyf jaar laas ’n titel gewen en bevind hom buite die wêreld se top-250, maar hy beweeg die laaste tyd in die regte rigting, soos twee top10-uitslae in sy laaste vyf toernooie bewys.

Vrydag het ’n dodelike kombinasie van goeie ysterspel en uitstekende setwerk die Wallieser op die voorvoet gekry. Daar is vandeesweek groot druk op hom, met net ’n oorwinning wat hom in die top-60 op die Race to Dubai-punteleer kan kry en ’n uitnodiging na aanstaande week se DP-wêreldkampioenskap sal besorg.

Maar as ’n man wat al die wen-sethou in ’n Ryderbeker gesink het (in 2014 in Skotland), het hy al gewys druk knak hom nie so maklik nie.

Die Wallieser Jamie Donaldson was Vrydag so gemaklik dat hy selfs tyd gemaak het om Sun City se fauna van naby te beskou.Foto: Getty Images

Dieselfde geld Bezuidenhout, wat verlede Sondag die Alfred Dunhill-kampioenskap met vier houe gewen het omdat hy die enigste van die aanspraakmakers was wat koelkop in die pylvak kon bly.

Oor die eerste 35 putjies van die SA Ope het daar steeds ys in sy are gevloei. Die blaps op die 18de wat hom van die alleen-voortou weerhou het, was dus heeltemal uit die bloute.

Bezuidenhout het reeds vier voëltjies op sy telkaart gehad toe hy die bal van die 17de se skoonveld af tot drie voet van die blikkie slaan. Hy het daar weggestap met sy vyfde voëltjie en ’n aandeel aan die voortou.

Ek het ’n goeie plan vir die week en gaan nou niks verander nie.
Christiaan Bezuidenhout

Toe hy sy derde hou daarna by die laaste tot spoegafstand van die vlag slaan, wou ’n mens al ’n voëltjie op sy telkaart invul. Maar toe die oomblik kom om die bal te sink, het hy dit te hard geslaan, tot verder van die blikkie as wat dit was. Hy kon wel sy syfer red, om te teken vir ’n foutlose 67 (-5).

Ondanks sy suur einde, was Bezuidenhout ’n tevrede man.

“Ek het ’n paar sethoue op die syfer5-putjies gemis wat ek eintlik moes gemaak het, en ’n paar kort sethoue wat bietjie brand, maar geen skade is gedoen nie,” het hy gesê. “Ek was in beheer en het soliede gholf gespeel. Ek het ’n goeie plan vir die week en gaan nou niks verander nie.”

Donaldson en Bezuidenhout gee die pas aan op ’n voorlopersbord waaroor gholfliefhebbers baie opgewonde kan raak.

Dylan Frittelli, wat drie weke terug vyfde in die Amerikaanse Meesterstoernooi geëindig het, en die Bloemfonteiner Dean Burmester deel die derde plek op 8-onder.

Frittelli het vyf voëltjies en ’n brouhou aangeteken vir ’n 68, terwyl Burmester gefrustreerd weggestap het ná ’n wipplank-69 wat ’n arend, vier voëltjies en drie brouhoue ingesluit het.

Frittelli het gesê hy is presies waar hy wil wees.

“Ek het aan die begin gesê ek sal voel ek het ’n kans as ek twee of drie houe agter is met nege putjies oor. Ek is nou twee agter, so dis perfek vir die naweek.”

Vyf spelers – die Suid-Afrikaners Ruan Korb (72) en Jacques Kruyswijk (72), Oostenryk se Matthias Schwab, die Nederlander Joost Luiten (67) en Aaron Cockerill van Kanada (68) – deel die vyfde plek op 5-onder, vyf houe agter Bezuidenhout-hulle.

• Die 17-jarige Casey Jarvis sal Sondag die Freddie Tait-trofee ontvang nadat hy die enigste amateur was wat Vrydag die afsnypunt kon oorleef.

Jarvis, Suid-Afrika se nr. 1-amateur, moes wel eers vir ’n ruk naels kou oor die afsnypunt, wat hy net-net gehaal het. Hy het gehoop vir ’n voëltjie by die laaste, om veiligheid te verseker, maar moes met ’n syfer en ’n ronde van 74 (+2) tevrede wees ná ’n wilde bofhou tot regs van die skoonveld.

TELLINGS

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.