Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Christiaan maak wéér stem dik by Sun City

Daar was altyd die gevaar dat Christiaan Bezuidenhout sou swaar dra aan die twee etikette waarmee hy vandeesweek by Sun City aangekom het – maar die teendeel het eerder op die eerste dag van die Suid-Afrikaanse Ope gegeld.

Christiaan Bezuidenhout is een van ses spelers in die eerste plek ná 18 putjies van die Suid-Afrikaanse Ope by Sun City. Foto: Getty Images

Bezuidenhout het hierdie week alle oë op hom as die wenner van verlede week se Alfred Dunhill-kampioenskap. Boonop is hy die hoogste gekeurde speler by die Sonstad, as die wêreld se nr. 41.

As die verwagtinge wat daarmee saam kom hom egter gepla het, het hy dit glad nie gewys nie. Ná 18 putjies is Bezuidenhout een van die pasaangeërs in die nasionale kampioenskap, danksy ’n rondte van 67 (vyf houe minder as baansyfer) wat ses voëltjies ingesluit het.

Die Delmas-boorling was vuurwarm oor sy eerste nege putjies (van die tiende tot die agttiende), met vyf voëltjies daar.

Oor die laaste nege het hy die voet van die pedaal gehaal, met ’n voëltjie en brouhou wat mekaar uitgekanselleer het, maar hy het wel kanse gehad om die alleen-voortou te neem. Twee voëltjie-sethoue van korter as tien voet by die sewende en negende putjie kon egter nie die blikkie vind nie.

Uiteindelik was hy aan die einde van die dag een van ’n yslike ses spelers in die voortou, saam met sy landgenote Dean Burmester, Ruan Korb en Jacques Kruyswijk, die Oostenryker Matthias Schwab en Italië se Aron Zwemmer.

Burmester en Schwab was soos Bezuidenhout in die oggendsessie in aksie. Schwab het ’n arend by die eerste putjie saam met drie voëltjies aangeteken, terwyl Burmester sewe voëltjies saam met twee brouhoue op die telkaart ingevul het.

Burmester was ’n hou voor toe hy op sy laaste bof (vandeesweek die negende, maar in die Nedbank-uitdaagtoernooi altyd die agttiende) gaan staan het, maar het teruggesak tot die bondel nadat hy ’n hou daar laat val het.

Die oggendsessie het ’n rits van die groot name in die veld sien uitskiet, met Dylan Frittelli en Wilco Nienaber wat ook goed rekenskap van hulself gegee het.

Frittelli het oor sy eerste nege die pap dik aangemaak en was op 7-onder ná tien putjies. Daarna het sy setyster hom egter in die steek begin laat en het hy drie brouhoue aangeteken vir ’n telling van 68. Hy en Frankryk se Matthieu Pavon deel die sewende plek.

Nienaber het vier voëltjies aangeteken voor ’n brouhou by die vyfde. Hy is saam met sy landgenote Justin Walters en Neil Schietekat negende op 69.

Die speler wat in die middagsessie die meeste oë laat rek het, is die 27-jarige Korb, wat 568ste op die wêreldranglys en in net sy derde seisoen as beroepspeler is, maar Sun City se Groen Monster met die kalmte van ’n veteraan bewandel het.

Sy enigste glips van die dag was by die agtste, waar hy ’n hou laat val het. In die Nedbank-toernooi is dít gewoonlik die 17de, maar ongeag die nommer op die bof bly dié putjie langs die meer een met skerp tande, van waar heelwat spelers ook Donderdag swetsend weggestap het.

TELLINGS

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.