Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger: 'Daar is belangriker dinge as gholf'

Die gholf-superster Tiger Woods het op Twitter ’n kort en kragtige boodskap oor die koronavirus-pandemie getwiet. Dit is sy eerste openbare kommentaar hieroor sedert vanjaar se Amerikaanse Meesters uitgestel is.

Tiger Woods verlede maand gedurende die Genesis-uitnodigingstoernooi in die Riviera-buiteklub in Kalifornië. Foto: Getty Images

Woods sou sy titel op Augusta verdedig, maar die Major sal vir die eerste keer in 85 jaar nie ’n April-datum hê nie.

“Daar is op die oomblik veel belangriker dinge in die lewe as ’n gholftoernooi,” het die 15-malige Major-wenner getwiet.

“Ons moet nou veilig en slim te werk gaan en doen wat goed vir ons, ons geliefdes en ons gemeenskap se gesondheid is.”

Woods het sy 15de Major verlede jaar op Augusta verower en so ’n wendroogte van 11 jaar in die Vier Grotes beëindig.

In dié tyd moes hy ’n baie morsige egskeiding, pynpilverslawing en beserings wat sy loopbaan bedreig het, verwerk.

Die Amerikaanse PGA het voor die Meesters uitgestel is, reeds verskeie ander toernooie gekanselleer.

Dit huidige stand van sake blyk net die oortjies van die seekoei te wees. Owerhede oor die wêreld heen het reeds ’n beroep gedoen op die kansellering van alle “groot byeenkomste waar meer as 50 mense saamkom”. Die reëling moet vir minstens agt weke geld.

Soos sportbyeenkomste die afgelope twee weke een ná die ander in die slag gebly het, was Woods reeds op die kantlyn.

Hy het hom weens ’n spierspasma in sy rug aan die Spelerskampioenskap onttrek. Dit is in elk geval ná net een ronde uit vrees vir die virussiekte Covid-19 afgelas.

“Ek moet luister na my liggaam. Behoorlike rus is wat ek nou nodig het. My rug is eenvoudig nie gereed vir gholf nie,” het Woods getwiet.

Die Spanjaard Jon Rahm het ook sy lojaliteit aan die PGA-reeks verklaar. Foto: Getty Images

Hy het hom vroeër ook aan die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi, die Honda Classic en die WGC in Mexiko onttrek.

Hy het einde Februarie in die Genesis-uitnodigingstoernooi in Kalifornië gespeel en 68ste geëindig.

Intussen het die tweede en derde speler op gholf se wêreldranglys gesê hulle het geen behoefte om in die winsgewende Premiergholfliga (PGL) te speel nie.

Die Spanjaard Jon Rahm, tweede op die ranglys, en die Amerikaner Brooks Koepka, derde, het hul stemme by die nr. 1-speler, die Ier Rory McIlroy, gevoeg en hul onwrikbare steun aan die PGA-reeks gegee.

Die voorgestelde PGL sal uit 48 spelers bestaan wat in 18 toernooie meeding. In elke toernooi is $10 miljoen op die spel.

McIlroy was die eerste beroepspeler wat gesê het hy gaan nie aan die PGL-geelwortel hap nie.

Vroeër vandeesweek het Rahm en Koepka ook hul steun aan die PGA-reeks gegee.

“Ek gaan net op die PGA-reeks fokus. Aan die einde van die dag is ek ’n deelnemer en ’n lid van die PGA-reeks en dis hoe sake gaan bly,” het Rahm gesê.

“Ek is ’n jong speler en hopelik het ek ’n lang, suksesvolle loopbaan in die reeks. Boonop hou ek van hoe die PGA dinge doen.”

Koepka was dit eens met hom.

“Ek steun sonder om twee keer te dink die PGA-reeks. Ek sluk moeilik aan die feit dat gholf rondom net 48 spelers sentreer,” het Amerikaner gesê.

– Sportredaksie, supersport.com

Meer oor:  Tiger Woods  |  Koronavirus  |  Gholf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.