Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Dankie, Army, sê Dunhill-voorloper

Jy sou Army Nathi Mdluli se naam nie Donderdag op die voorlopersbord van die Alfred Dunhill-kampioenskap buite Malelane vind nie – en tog het die lofgesange oor hom ná die eerste ronde by Leopard Creek weergalm.

Die Fransman Robin Roussel en sy baljoggie, Army Nathi Mdluli, gister op Leopard Creek se negende setperk. Foto: Getty Images

Mdluli, ’n plaaslike baljoggie wat Leopard Creek se setperke soos die palm van sy hand ken, dra vandeesweek die sak van die Fransman Robin Roussel. En ná 18 putjies van die Dunhill-toernooi, pronk Roussel se naam boaan die telbord. En dis als aan Mdluli te danke, sê hy.

“Ek is baie gelukkig dat Army dié week my sak dra. Hy ken die baan en lees die setperke baie goed,” het Roussel Donderdag volgens die Europese reeks gesê, ná ’n eerste ronde van 65 (sewe houe beter as baansyfer). Dit het nege voëltjies (waaronder vyf in ’n ry van die 10de tot die 14de putjies) ingesluit.

“Hy het regtig baie gehelp. Ek het kwaliteit-sethoue op die 10de, 11de, 12de, 13de en 14de putjies geslaan. Sonder hom sou ek nie al die sette kon inrol nie.”

Roussel het die afsnypunt in agt van sy laaste tien toernooie gemis en in Augustus laas ’n top-30-uitslag behaal. Verlede jaar, in sy eerste ontmoeting met die Leopard Creek-baan, het hy egter 14de in die Dunhill-kampioenskap geëindig, en dus geweet dis ’n uitleg wat hy te bowe kan kom.

“Ek het my ronde goed begin, so ek het vinnig selfvertroue gekry,” het hy gesê. “My bofhoue, my naderhoue en my sette was goed, so ek is gelukkig.”

Roussel deel die voortou met die Pool Adrian Meronk, wat Leopard Creek disnis geslaan het met twee arende (by die 18de en sesde putjies), vier voëltjies en ’n enkele brouhou.

Die Pool Adrian Meronk is saam met Roussel voor. Foto: Getty Images

Roussel en Meronk het albei in die oggendsessie gespeel, en die hele middag gesit en wag vir iemand om hulle in te katrol.

Dit het vir lank gelyk of niemand dit sou doen nie, totdat Skotland se Scott Jamieson laatmiddag losgetrek het met vier voëltjies oor sy laaste vyf putjies.

Dit het hom gedra tot 66, een hou agter Roussel-hulle. Die Engelsman Richard Bland is vierde op 65.

Die voorste Suid-Afrikaner ná 18 putjies is Ockie Strydom, danksy ’n foutlose 68 (4 beter as die baan) wat hom in die gesamentlike vyfde plek plaas. Jbé Kruger, Danie van Tonder, Christiaan Bezuidenhout en die 19-jarige Jayden Schaper tel onder die magdom spelers wat ’n verdere hou terug in die agtste plek is.

Meer oor:  Alfred Dunhill-Kampioenskap  |  Gholf  |  Malelane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.