Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Dankie tog vir 2012, sê SA se Dylan

Nadat Dylan Frittelli die eerste dag van die Britse Ope by Royal Portrush in Noord-Ierland Donderdag as een van die pasaangeërs afgesluit het, het hy ver terug in sy geheuebank gaan krap om sy goeie dag op die gholfbaan te verduidelik.

’n Welverdiende glimlag . . . Dylan Frittelli is stewig in die wedloop ná die eerste ronde van die Britse Ope. Foto: Getty Images

Eers al die pad terug tot in 2012, toe sy eerste kennismaking met Portrush in teleurstelling geëindig het. En toe na 104 weke gelede, toe ook sy eerste Britse Ope ’n traumatiese affêre was.

Frittelli was Sondag die laaste man wie se naam op die deelnemersrol van die Ope ingepen is, ná hy die John Deere Classic-toernooi in Illinois gewen het – maar hy was Donderdag ver van laaste by Portrush.

Toe hy van die baan gestap het ná ’n baie goeie oggendsessie, was hy op 68 (drie houe minder as baansyfer) net ’n hou agter die klubhuis-voorloper, die Ier Shane Lowry (67, 4-onder). In die middagsessie het die Amerikaner J.B. Holmes (66) Lowry ingehaal.

Frittelli se John Deere-triomf het hom by die agterdeur laat inglip na sy derde agtereenvolgende Britse Ope. Twee jaar gelede, in sy debuut by Royal Birkdale, was hy ’n veel ander speler as nou, het hy aan die PGA-reeks se webtuiste gesê.

“By Royal Birkdale was ek op die eerste bof so op my senuwees ek kon omtrent nie die bofhou slaan nie. Ek het die oomblik net veel meer opgebou as wat dit was. Uiteindelik was dit net ’n gholftoernooi,” het die 29-jarige Suid-Afrikaner gesê.

“Namate jy in groter toernooie speel jaar jy vroeër of later raak daaraan gewoond en kan jy gholf op groot verhoë speel.”

Die feit dat hy een van die spelers was wat in 2012 opgedaag het toe Portrush sy eerste groot geldtoernooi in dekades – die Europese reeks se Ierse Ope – aangebied het, was ook vandeesweek ’n groot hulp, sê Frittelli. Al het hy daardie week die afsnypunt gemis, het hy minstens geweet wat om te verwag.

“As ek nie (in die Ierse Ope) gespeel het nie, sou ek myself waarskynlik gedruk het om Dinsdag 18 putjies te speel en Woensdag nog 9. En dan sou ek aansienlik moeër gewees het as nou,” het hy gesê.

Frittelli was een van vier Suid-Afrikaners wat die eerste ronde in minder houe as baansyfer voltooi het, met Louis Oosthuizen, Erik van Rooyen en Branden Grace wat almal 70 houe (-1) aangeteken het. Zander Lombard, Justin Harding en Ernie Els het almal 71 houe gespeel.

Die swakste telling deur ’n Suid-Afrikaner was Richard Sterne se 78 (+7), maar hy het steeds ’n aansienlik beter dag gehad as die groot gunsteling, Rory McIlroy.

PORTRUSH, NORTHERN IRELAND - JULY 18: Rory McIlroy
Rory McIlroy. Foto: Getty Images

Alle oë was Donderdag op die 30-jarige Noord-Ier, wat 14 jaar gelede ’n merkwaardige ronde van 61 by Portrush gespeel het en sedertdien vier major-titels en 21 ander toernooie gewen het.

Maar nadat hy die grootste applous van almal op die eerste bof gekry het, was die oomblik te groot vir ’n duidelik senuweeagtige McIlroy.

Hy het sy eerste bofhou ver regs gestoot en sy tweede poging links tot in ’n onspeelbare posisie geslaan. Sy eerste putjie het ’n vierdubbele brouhou opgelewer, die syfer-3 sestiende ’n dubbele brouhou en die agttiende ’n driedubbele brouhou.

Na ’n ronde van 79 (+8) is sy droom van ’n Ope-triomf in sy geboorteland aan skerwe.

Een ligpunt vir McIlroy? Daar is een man wat meer houe op ’n enkele hou afgestaan het as hy in sy hele ronde.

Die Amerikaner David Duval, Britse Ope-kampioen van 2001, het 14 houe nodig gehad om die 7de (syfer 5) te voltooi en het uiteindelik vir ’n 91 (+20) geteken.

Nog ’n voormalige kampioen, Tiger Woods (78), het self ’n dag beleef om te vergeet. Hy het nooit gemaklik gelyk nie, met sy rug wat hom oënskynlik gepla het, en het vyf brouhoue en ’n dubbele brouhou aangeteken voor hy uiteindelik by die vyftiende putjie oor sy eerste voëltjie van die dag kon glimlag.

* Onder die spelers wat saam met Frittelli op 3-onder gaan slaap het, tel die immer gevaarlike Brooks Koepka, wat vier van die laaste tien major-toernooie gewen het en in nog twee tweede was.

Ook die Kiwi Ryan Fox is op -3 nadat hy die eerste speler ooit geword het wat die laaste nege putjies van ’n Ope-ronde in minder as 30 houe (29) kon voltooi.

Voorlopersbord

Meer oor:  Gholf  |  Royal Portrush  |  Dylan Frittelli  |  Britse Ope  |  Rory Mcilroy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.