Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Deen wil geskiedenis maak in SA

Die Deen Lucas Bjerregaard hoop hy kan Sondag slegs die tweede gholfspeler word wat die Alfred Dunhill Links-kampioenskap sowel as sy sustertoernooi, die Alfred Dunhill-kampioenskap, wen.

Hy is een van die spelers wat Donderdag in die laasgenoemde toernooi op die Leopard Creek-baan by Malelane afslaan.

Lucas Bjerregaard van Denemarke speel die week in die Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek. Foto: Verskaf

Bjerregaard het die Links-kampioenskap by St. Andrews in Skotland in 2018 gewen en hy sal hom by die Suid-Afrikaner Branden Grace aansluit as hy ook in die Dunhill-kampioenskap kan seëvier.

Grace het dié toernooie in 2012 en 2014 gewen.

“Dit is twee spesiale toernooie, wat op twee baie spesiale plekke gespeel word.

“Ek is vanselfsprekend vreeslik opgewonde om op Leopard Creek mee te ding en hopelik kan ek by Branden aansluit,” sê Bjerregaard.

Leopard Creek kry altyd baie lof van beroepspelers en om in die toernooi op dié baan, wat grens aan die Krugerwildtuin, te speel, word sonder uitsondering as een van die hoogtepunte op die gholfkalender bestempel.

Bjerregaard deel dié sentiment.

Ek moet bieg, ek is gaande oor die kos in Suid-Afrika.

“Leopard Creek is so uniek. Ek het nog nooit op so ’n baan gespeel nie. Ek is altyd wanneer ek hier speel so verbaas dat Gary Player en Johann Rupert dit enigsins kon indink (’n baan in die hartjie van die Bosveld).

“Almal wat al die voorreg gehad het om op Leopard Creek te speel, sal met my saamstem dat dit ongelooflik is om op die 13de setperk te staan en oor die wildtuin uit te kyk.

“Dit is baie spesiaal om te set met renosters, olifante en krokodille in die agtergrond.”

Sou Bjerregaard wen, sal hy die eerste Deen word wat in die Dunhill-kampioenskap met die wentjek wegstap.

Twee van sy landgenote, Anders Hansen en Thorbjørn Olesen, het al in die verlede tweede geëindig.

Bjerregaard sê afgesien van die vooruitsig om gholfgeskiedenis te maak, is daar ander faktore wat hom hierheen bring.

“Ek moet bieg, ek is gaande oor die kos in Suid-Afrika.

“Daar word altyd so goed na ons omgesien en ek het al ongelooflike mense ontmoet.

“Ek maak gebruik van elke kans wat ek het om na Suid-Afrika te kom.” – Sonskynreeks

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.