Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Die grapjas se gholf met presidente
Gary Player het Retief Goosen onlangs in wêreldgholf se heldesaal help inhuldig. Foto: Getty Images

Retief Goosen is onlangs in wêreldgholf se heldesaal ingehuldig en bevind hom skielik tussen die ware legendes van die spel.

Dis reg, Goosen se naam word nou in dieselfde asem as gholf-reuse soos Arnold Palmer, Gary Player, Jack Nicklaus en Bob Hope genoem.

Bob Hope?

Dis reg, Bob Hope.

Bob Hope het deur die jare saam met verskeie oud-Amerikaanse presidente gholf gespeel. Hier is hy saam met Richard Nixon.Foto: Confessions of a Hooker

Hoewel Hope nooit die Amerikaanse Ope, die Britse Ope of selfs die Suid-Afrikaanse Ope gewen het nie, is hy ook in dié heldesaal ingehuldig.

Hope, beter bekend as komediant en akteur, was ’n golf-fanatikus en was deur die jare ’n ware amabassadeur vir die sport.

Hy het dan ook vir jare die Bob Hope Desert Classic-toernooi aangebied.

Hope is seker ook die enigste ou in die wêreld wat kan sê hy het deur die jare saam met agt oud Amerikaanse presidente stokke geswaai.

In 1995 het Hope geskiedenis gemaak toe hy saam drie van hulle – Gerald Ford, George W. Bush en Bill Clinton – ’n vierbal in sy toernooi gedeel het.

Dit was die enigste keer ooit dat drie oud-Amerikaanse presidente deel van dieselfde vierbal was.

Hope het ook gholf saam met Ike Eisenhower, John Kennedy, Lyndon Johnson, Richard Nixon en Ronald Reagan gespeel.

Volgens hom was Kennedy ’n “rustelose speler”, Johnson was “nie baie goed nie” en Nixon was weer “verskriklik ernstig”.

Ford was glo nogal ’n “wilde” speler en het gereeld toeskouers met sy bal raakgeslaan.

“Hy het ook baie veiligheidsmanne by die baan gehad wanneer hy gespeel het,” het Hope op ’n keer vertel.

Die een keer toe ons in Palm Springs speel, het ek gesien hoe gooi een van hulle wat soos ’n kaktus aangetrek was Ford se balletjie skelmpies op die setperk.
Bob Hope

“Die een keer toe ons in Palm Springs speel, het ek gesien hoe gooi een van hulle wat soos ’n kaktus aangetrek was Ford se balletjie skelmpies op die setperk.”

Niemand was egter glo so wild soos Spiro Agnew, ’n voormalige vise-president nie.

Hope sê Agnew het al in een ronde gholf by die Bermuda Dunes in Kalifornië nie net sy gholfmaat Doug Sanders agter die kop raakgeslaan nie, maar ook drie toeskouers raak gemoker!

Hope het dit terdeë geniet om saam met regte gholfsterre, soos Palmer en Nicklaus, te speel.

Arnold Palmer lyk redelik geamuseerd oor die gholfstok waarmee Bob Hope wil speel. Foto: Confessions of a Hooker

Toe hy in 1961 in Engeland aan die rolprent Call Me Bwana gewerk het, het hy besluit om vir Palmer ’n kameerolletjie in te skryf.

In die fliek sien ’n mens Hope in ’n tent sit, kamstig iewers in Afrika, en hy eet sy ontbyt. Maar in plaas van ’n eier, is daar ’n gholfballetjie op sy bord.

Dan steek Palmer skielik sy kop by die tent in en vra: “Het iemand my bal gesien?”

Hope was altyd verstom oor hoe koelkop die beroepspelers was al was daar groot geld op die spel. Hy was veral gefassineerd met die sogenaamde Skins-toernooie.

Dis waar ’n speler by elke putjie ’n groot bedrag geld kan wen.

“Wanneer ek vir net $2 speel, is ek so gespanne dit lyk of ek besig is om ’n ope hartoperasie te ondergaan,” het Hope gesê. “My knieë bewe soveel dit lyk of ek ’n oudisie doen vir Flashdance!”

Bob Hope geniet hier ’n ligte oomblik saam Sugar Ray Leonard en Mickey Rooney in die bokskryt. Eintlik was Hope nie ’n slegte bokser nie en het hy sowaar ’n kortstondige loopbaan as beroepsbokser gehad.Foto: Getty Images
Bob Hope ’n paar jaar kort voor sy dood by ’n onthaal saam met die komediant Milton Berle. Foto: Getty Images

Die ou grapjas het oral in die wêreld gholf gespeel en het sy gunsteling-bane gehad.

Sawgrass naby Jacksonville in Florida het nie onder sy bestes getel nie. Dit klink of dinge maar rof was toe hy daar stokke geswaai het.

“Die baan (by Sawgrass) skei die seuns van die manne. Ek moet sê, dit was ’n wonderlike gevoel om weer ’n seun te wees,” het hy met sy tong in sy kies gesê.

“By die een putjie het ek ’n krokodil so hard met my balletjie geslaan dat hy nou my gholfsak is!”

Hope het natuurlik groot pret saam met ander beroemde akteurs gehad wanneer hulle die dag saamgespeel het.

Hy en Humphrey Bogart het glo een aand in ’n hotelkamer aan die kuier geraak en toe begin gholf gesels.

Bogart het Hope skielik op die vloer neergegooi, ’n stukkie kougom op sy neus vasgedruk en ’n balletjie daar staangemaak.

Toe oefen hy sy afslane.

“Van toe af kon ek nooit weer normaal asemhaal nie,” het Hope gekla.

Bob Hope en Bing Crosby het in verskeie rolprente, soos The Road toe Singapore, gespeel. Hulle het ook graag saam gholf gespeel.Foto: Getty Images

Hope se grootste vriend – en kamma grootste vyand – op die gholfbaan was die sanger en akteur Bing Crosby. Crosby is terloops ook in die heldesaal ingehuldig.

In Oktober van 1977 het een van Hope en Crosby se vriende, Hugh Davis, dood neergeslaan op die Baltusrol-gholfbaan in New Jersey.

’n Tydjie later was Hope by die gedenkdiens toe kry hy nog slegte nuus. Crosby het pas op ’n gholfbaan in Spanje ’n hartaanval gekry en gesterf.

Dit sou seker gepas gewees het om nou te vertel dat Hope ook op ’n gholfbaan dood is. Dis sekerlik hoe hy sou wou gaan.

Hy is helaas in 2003 in die ouderdom van 100 jaar in sy bed weens longontsteking oorlede.

* Bron: Confessions of a Hooker deur Bob Hope; www.worldgolfhalloffame.org.

Meer oor:  Arnold Palmer  |  Las Vegas  |  Vsa  |  Hollywood  |  President  |  Komediant  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.