Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Dís waarom Sonstad-‘major’ in slag bly

’n Gewigtige besluit, maar die vooruitsig van die Nedbank-uitdaagtoernooi sonder toeskouers by ’n leë Sun City was deurslaggewend.

Die Covid-19-pandemie het sover die gholfwêreld op sy kop gekeer met onder meer die Britse Ope wat afgelas is en die Amerikaanse Meesterstoernooi wat vanjaar eers in November gespeel word.

Gary Player, gasheer van die Nedbank-uitdaagtoernooi, by verlede jaar se wenner, Tommy Fleetwood. Foto: Gallo Images

Nou het ook die Nedbank-toernooi – jaarliks die hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse gholfkalender – in die slag gebly.

Nedbank, Sun International en die Europese reeks het Vrydag in ’n gesamentlike verklaring bevestig die toernooi sal vir die eerste keer sedert 1981 nie gehou word nie.

Die toernooi is reeds na ’n latere datum, 3 tot 6 Desember, verskuif, maar die 40ste toernooi sal nou eers in 2021 beslis word.

Gary Player, die gasheer van die toernooi, sê hy ondersteun die besluit ten volle.

“Ek is daarvan oortuig dat al die rolspelers al die moontlike gedoen het om vanjaar se toernooi te laat plaasvind en ek besef dit was nie ’n maklike besluit nie.

“Ons almal is baie trots op die Nedbank-uitdaagtoernooi en as dit nodig is om dit ’n jaar uit te stel om die mylpaal (die 40ste toernooi) op ’n gepaste wyse te vier, is dit die regte besluit.”

Mike Brown, Nedbank se uitvoerende hoof, sê die besluit is in die belang van die toernooi en almal wat daarby betrokke is.

“Dit was nog altyd meer as ’n gewone gholftoernooi. Die kans om van die voorste spelers ter wêreld in aksie te sien, die geleentheid om kliënte te onthaal en die platform wat dit vir Suid-Afrikaanse toerisme bied, het meegebring dat dit onder die huidige beperkings net nie lewensvatbaar was nie.

“Daar is besluit om die 40ste toernooi eerder na 2021 uit te stel, sodat dit gevier kan word op ’n wyse waarop gholfondersteuners oor die jare aan gewoond geraak het.”

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, sê dit sou onder die huidige omstandighede nie moontlik gewees het “om aan die hoë standaarde wat sedert 1981 gestel is”, te voldoen nie.

Die Engelsman Tommy Fleetwood is die verdedigende kampioen nadat hy verlede jaar vir Marcus Kinhult van Swede in ’n uitspeelstryd geklop het.

Verskeie topspelers het die afgelope ruk hul kommer uitgespreek om oorsee te reis vir toernooie.

Europese spelers soos Padraig Harrington, Lee Westwood en Francesco Molinari het besluit om nie vroeër vandeesmaand na die VSA te vlieg om in die PGA-kampioenskap te speel nie.

Die wesenlike gevaar dat ’n afgewaterde veld vanjaar in die Sonstad sou aantree, het gewis ook ’n rol gespeel in die besluit om die toernooi te kanselleer.

Meer oor:  Mike Brown  |  Gary Player  |  Sun City  |  Nedbank-Uitdaagtoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.