Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Ernie vs. Tiger – en hopelik nog ’n skouspel

Op ’n November-dag in 2003, terwyl ’n rooi Afrika-son agter die bome van die Fancourt Links-gholfbaan buite George begin wegsak het, het Ernie Els en Tiger Woods soos twee swaargewigboksers houe uitgeruil, terwyl probeer is om ’n wenner vir die Presidentebeker te vind.

Die kompetisie was net nege jaar oud, en vrae oor sy bestaansreg was jare die toekoms in. Op daardie Sondag, terwyl nie Els (die Internasionale span se grootste kanon) of Woods (nie net Amerika nie, maar die hele wêreld se voorste speler) geweier het om bes te gee, het almal teenwoordig saamgestem hulle lê oë op een van die spesiaalste hoofstukke in die geskiedenis van gholf.

Die Big Easy en die 12 spelers wat die Presidentebeker weer relevant moet maak neem Maandagaand selfies rondom die trofee. Foto: Getty Images

Sestien jaar later het heelwat natuurlik verander. Die uiteindelike gelykopuitslag van 2003 (die resultaat van die kapteins Gary Player en Jack Nicklaus se grootmoedige besluit om die louere te deel) is opgevolg deur sewe seges vir die Yanks – en ’n ronde nul vir die Internasionale span.

Terwyl die wêreld se ander spankompetisie vir mans, die Ryderbeker tussen Amerika en Europa, elke twee jaar beter raak, het die Presidentebeker in die 16 jaar sedert 2003 net dowwer en dowwer geraak. Ja, daar is nou ’n Junior Presidentebeker op die been gebring, waarin tienerseuns in ’n miniweergawe van die ware Jakob speel, maar dis nie genoeg om die voortbestaan van die kompetisie te waarborg nie.

Al wat dít kan doen, is ’n sege vir die Internasionale span.

Geen wonder nie dat daar wyd en syd gehoop word vandeesweek se weergawe, wat vroeg Donderdagoggend (SA tyd) begin en waarin Els en Woods weer direk swaarde gaan kruis (dié keer as kapteins), het ewe veel towersand as 2003 s’n.

En towersand gaan dit inderdaad moet hê, want op papier lyk hierdie na ’n erg ongebalanseerde stryd.

Die VSA het vyf spelers in die top-10 op die wêreldranglys, die Internasionale span 0. Daar is tien Yanks in die top-20, teenoor twee van Els se spelers.

Sewe Amerikaners is beter as Adam Scott, die beste internasionale speler. Geen Amerikaner is swakker as 23ste op die ranglys nie – geen internasionale speler is beter as 15de nie.

In die Woods-kamp is daar tien major-kampioene. In die Internasionale kamp twee.

Gelukkig het Els dit Dinsdag in Melbourne duidelik gemaak sy span kyk nie teen syfers soos daardie vas nie. As speler moes hy gewoond raak daaraan om tweede viool te speel vir die fenomeen wat Woods was. Dit hóéf nie as kaptein ook so te wees nie.

“Hy’s nie ’n slegte speler nie,” het Els tong in die kies aan AFP gesê van Woods. “Hy is een van die bestes, die heel beste van my generasie. Dit was altyd ’n voorreg om teen hom te speel.

Hy is een van die bestes, die heel beste van my generasie. Dit was altyd ’n voorreg om teen hom te speel.
Ernie Els

“Baie toernooie gaan deur my gedagtes waar ek naby was maar teen hom verloor het. Maar daar was darem ook ’n paar waar ek hom gekry het. Die hoogtes wat gholf die laaste 25 jaar bereik het, is merkwaardig, en die sport sou nie gewees het waar dit vandag is as dit nie vir Tiger Woods was nie.

“Maar met dit alles gesê . . . jy weet, ons wil steeds hul alies hier by die huis skop.”

‘Hier by die huis’ is vandeesweek Melbourne, waar Els in 1998 lid was van die enigste Internasionale span wat ooit ’n Presidentebeker-sege kon behaal.

Daardie jaar het Els-hulle ook nie net-net gewen nie, maar die Amerikaners gestoomroller, met 20½, 11½.

Benewens die gasheerbaan, is daar een merkbare ooreenkoms tussen 1998 en 2019: die Internasionale twaalftal sluit net een Suid-Afrikaner in. Waar Els toe die bont vlag alleen gedra het, is Louis Oosthuizen vanjaar ons enigste verteenwoordiger.

Vir die Suid-Kapenaar het dit veral een groot implikasie: hy sal hierdie naweek heeltyd speel saam met spelers met wie hy nog nooit voorheen gekombineer het nie.

Sedert sy Presidentebeker-debuut in 2013 het Oosthuizen net saam met drie ander mans in beurtspel of beterbal gespeel: die Aussie Jason Day, sy jarelange vriend Charl Schwartzel en sy mede-Suid-Kapenaar Branden Grace, saam met wie hy in 2015 vier wedstryde gewen het.

Nie een van dié drie speel vandeesweek nie.

“Ek het nooit saam met enigiemand anders gespeel nie, so dit was vreemd om te sien saam met wie ek gaan speel,” het Oosthuizen Dinsdag aan Golf Channel gesê, ná ’n oefenronde saam met die groentjies Joaquin Niemann en Adam Hadwin, en Aussie-veteraan Adam Scott (die enigste ander major-wenner in die Internasionale span).

“Maar soos die ouens speel gee ek nie om saam met wie ek uitgaan nie. Dis vir my lekker om saam met hulle te speel en ek sien uit na die uitdaging van ’n nuwe speelmaat. Dit behoort nie ’n probleem te wees nie.

* Die twee twaalftalle:

VSA: Dustin Johnson, Xander Schauffele, Patrick Cantlay, Justin Thomas, Matt Kuchar, Webb Simpson, Bryson DeChambeau, Gary Woodland, Patrick Reed, Tony Finau, Tiger Woods, Rickie Fowler

Internasionaal: Adam Scott (Australië), Marc Leishman (Australië), Cameron Smith (Australië), Hideki Matsuyama (Japan), Louis Oosthuizen (Suid-Afrika), Haotong Li (China), Abraham Ancer (Mexiko), C.T. Pan (Taiwan), Adam Hadwin (Kanada), Sungjae Im (Suid-Korea), Joaquin Niemann (Chili), Byeong Hun An (Suid-Korea).

Meer oor:  Presidentebeker  |  Tiger Woods  |  Ernie Els  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.