Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Dit jubel en juig weer (effentjies) op Augusta

Die wêreldse voorste gholfspeler en verdedigende Meesters-kampioen, Dustin Johnson, en die viermalige Major-wenner Rory McIlroy het Dinsdag ’n handjievol toeskouers op Augusta National rede gegee om te jubel en juig.

Dustin Johnson, die verdedigende Meesters-kampioen, speel ’n hou in Dinsdag se oefenronde op Augusta National, terwyl die viermalige Major-wenner Rory McIlroy, en ’n handjievol gemaskerde toeskouers toekyk. Foto: Getty Images

Die twee het saam in ’n oefenronde gespeel ter voorbereiding vir die 85ste Meesterstoernooi, die eerste Major van die jaar, wat Donderdag op die geskiedkundige baan begin.

Dis die eerste keer sedert 2019 dat toeskouers op Augusta toegelaat is, nadat die koronaviruspandemie eers verlede jaar se April-afspraak in die wiele gery het, voor die herskedulering in November in die afwesigheid van ’n skare beslis is.

Dis juis toe dat Johnston die gesogte groen baadjie ontvang het na ’n manjifieke vertoning in die laaste ronde. Sy telling van 20 beter as die baansyfer, het die vorige wenmarge wat deur Tiger Woods opgestel is, met twee houe verbeter.

Die paar honderd toeskouers, almal met maskers, moes aan streng protokolle voldoen, maar hul teenwoordigheid was vir die spelers wat kom oefen het, duidelik ’n riem onder die hart.

“Dis ongelooflik om weer hier op Augusta te wees en mense te sien,” sê Matthew Fitzpatrick van Engeland, 16de op die wêreldranglys.

“Dit beteken baie vir ons as spelers. Selfs die handjievol wat hier was, het ’n verskil gemaak.”

Die besoekers wat vroeg genoeg uit die vere was, kon onder meer vir McIlroy en Johnston oor die eerste nege putjies volg, voordat die verdedigende kampioen na die oefenbof is.

McIlroy, op soek na daardie ontwykende Meesters-kroon om sy Grand Slam van vier grotes te voltooi, het 18 putjies voltooi.

“Dit gaan ’n groot Meesters wees, veral met die mense wat nou terug is om ons aan te moedig,” sê Johnson. Hy gaan probeer om Sondag slegs die tweede speler sedert Woods (in 2001-’02) te word om twee Meesters-titels ná mekaar te wen.

“Die toestande is ideaal, die baan is manjifiek versorg. Ek dink hierdie gaan ’n fantastiese toernooi wees.”

McIlroy, 12de op die wêreldranglys, was eweneens opgewonde om weer ’n gejubel en gejuig op die baan te hoor.

“Dit skep atmosfeer, dit gee lewe aan die spel. Ek is bly organiseerders laat toeskouers toe,” sê die Ier.

Presies hoeveel van hulle deur die hekke toegelaat gaan word, is nie amptelik bekend nie. Berigte in die Amerikaanse media skat dat net 12 000 mense daagliks die gholf mag dophou.

Hoe dit ook al sy, dit sal veel minder as die gebruiklike 40 000 tot 50 000 wees wat voor die pandemie daagliks na Augusta opgeruk het.

“Hulle speel ’n baie belangrike rol. En dit gaan nie baie mense verg om weer ’n mate van normaliteit op die baan te skep nie. Dis wat ons as spelers wil hê. Daardie energie en die aanmoediging,” het 2015 se Meesters-kampioen, Jordan Spieth, na sy oefenronde gesê.

Pete Cowen, McIlroy se nuwe afrigter, het Maandag aan sy swaai geskaaf en nog ’n viermalige Major-wenner, Brooks Koepka, ook onder hande gehad.

“Rory moet nou vergeet van sy vorige gesukkel en fokus op sy nuwe prosesse. Alles sal dan in plek val,” voorspel Cowen.

Koepka was optimisties.

“Dit voel vir my of ek die toernooi kan wen. Ek dink my spel is goed genoeg op dreef om dit te kan vermag. Ek moet dit vir vier dae volhou. Ek is nie hier om tweede te eindig nie,” sê die Amerikaner.– TeamTalk

Meer oor:  Koronavirus  |  Meesters  |  Gholf  |  Amerikaanse Meesters  |  Pga  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.