Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Downs-vrou Woodland se troefkaart
Gary Woodland ná sy sege in die Amerikaanse Ope by Pebble Beach. Foto: AP

Gary Woodland sal vir altyd ’n Amerikaanse Ope-gholfkampioen wees nadat hy Maandagoggend (SA tyd) ’n oorwinning met drie houe by Pebble Beach in Kalifornië behaal het.

Maar die 35-jarige Amerikaner sal waarskynlik eerder onthou word as “daai gholfspeler”, wat vier maande gelede in ’n video verskyn het wat al meer as 20 miljoen keer op die internet gekyk is.

En Woodland, wat tot en met sy Ope-triomf tweede viool vir Amy Bockerstette (die ster in die video) moes speel, het geen probleem daarmee nie.

Amy Bockerstette (in blou) vroeër vanjaar op ’n nuuskonferensie by die Phoenix Ope in Amerika. Foto: Getty Images

Trouens, Woodland sê dis Bockerstette, ’n jong vrou met downsindroom wat al in die Spesiale Olimpiese Spele gholf gespeel het, wat hom die geestelike krag help gee het om Brooks Koepka se aanslag in die pylvak van die Amerikaanse Ope af te weer.

“Sy’t alles vir my beteken vanuit ’n sielkundige oogpunt,” het Woodland aan verslaggewers gesê nadat hy ’n laaste ronde van 69 houe gespeel het om met ’n totaal van -13 (drie houe voor Koepka) te eindig.

“Die lewe gaan nie altyd maanskyn en rose wees nie. Daar gaan slegte dinge met jou gebeur. Daar gaan baie hoogte- en laagtepunte wees. Die enigste ding wat jy kan beheer, is jou ingesteldheid. En as jy dít doen, sal goeie dinge uiteindelik met jou gebeur,” sê Woodland oor die lesse wat hy by Bockerstette geleer het.

Woodland het Bockerstette vroeër vanjaar toevallig by die Phoenix Ope ontmoet toe die PGA-reeks hom (as die verdedigende kampioen in Phoenix) gevra het om in ’n oefenronde die 16de putjie saam met Bockerstette te speel.

Dié putjie op die Scottsdale TPC-baan is een van die mees intimiderende putjies in gholf. Dit word deur paviljoene en losies omring en is berug vir die luidrugtige toeskouers wat spelers luidkeels aanmoedig of dikwels selfs uitjou.

Bockerstette (20) het selversekerd op die bof stelling ingeneem en haar bofhou tot in ’n sandkuil langs die setperk van dié syferdrie-putjie geslaan.

Sy het daarna ’n koelkop-plofhou uit die kuil gespeel en ’n sethou van ’n raps minder as 3 m ingerol om ’n syfer aan te teken. Terwyl sy die putjie gespeel het, het sy deurgaans vir haarself én Woodland gesê: “Ek het dit. Ek het dit.”

Dié durf en vasberadenheid is soos ’n tatoeëermerk op Woodland se voorarm ingeëts en het deurgaans deur sy kop gemaal toe sy voorsprong in die laaste ronde op ’n kol tot ’n enkele hou gekrimp het.

Volgens Woodland het hy vir homself bly sê, “jy het dit, jy het dit,” toe daar in die pylvak van die toernooi twyfel in sy gemoed begin kruip het.

“Haar ingesteldheid, haar liefde vir die lewe en gholf, haar positiewe energie – dis aansteeklik,” sê hy.

“Ek het die voorreg gehad om ná Phoenix met haar kontak te behou. Sy’t vir my ’n video gestuur toe ek weens siekte aan die Wells Fargo-toernooi moes onttrek. Sy het ook vir my ’n verjaardagboodskap gestuur. Sy is ’n spesiale meisie, met spesiale ouers en dis fantasties om met haar bevriend te wees.”

Woodland het voor die Amerikaanse Ope al drie keer toernooie in die Amerikaanse PGA-reeks gewen, maar het gesukkel om sy stempel in die Grand Slams af te druk. Trouens, voor vanjaar se PGA-kampioenskap, kon hy in 27 Grand Slam-toernooie nooit ’n plek onder die toptien behaal nie. Hy het ook die gewoonte gehad om in die laaste rondes van toernooie onder druk te vou en het in die sewe kere wat hy voor was ná 54 putjies nie ’n enkele keer gewen nie.

Maar Woodland, wat sy visier op ’n loopbaan as ’n professionele basketbalspeler gehad het voordat hy voltyds op gholf begin fokus het, sê hy het nooit daaraan getwyfel dat hy eendag sukses in ’n grote sou behaal nie.

“Ek het nog altyd in myself geglo. Maak nie saak wat ek doen nie, van kleins af het ek geglo dat ek suksesvol sal wees,” sê dié 35-jarige.

“Ek het geglo dat ek ’n beroepsportman sou word.” – Reuters

* Suid-Afrika se groot hoop in die toernooi, Louis Oosthuizen, het ’n laasterondetelling van 72 houe gespeel (vir ’n totaal van -6) en het gesamentlik sewende geëindig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.