Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Dylan: Van dodelik na dwalend

Vir ’n paar minute Vrydag kon Suid-Afrikaners daarvan droom om een van hul eie as alleen-voorloper by die halfpadmerk van die Britse Ope te sien.

Maar toe gaan staan die gholfgode in die pad daarvan.

Dylan Frittelli grou tussen die lang gras by Royal Portrush se sewentiende putjie vir sy bal. Foto: Reuters

Die gebore Johannesburger Dylan Frittelli het die tweede ronde van die Britse Ope by die Noord-Ierse gholfjuweel Royal Portrush Vrydagmiddag drie houe agter die voorlopers afgesluit nadat twee windskewe bofhoue op die laaste twee putjies hom drie houe gekos het.

Die Amerikaner J.B. Holmes (68) en Ierse tuisgunsteling Shane Lowry (67) gee die pas aan in die Ope, met ’n skrale voorsprong met een hou oor die Engelsmanne Lee Westwood (67) en Tommy Fleetwood (67).

Toe Holmes die baan verlaat het om hom as klubhuis-voorloper by Lowry aan te sluit, was Frittelli nog saam met hulle in die voortou op 8-onder en met twee putjies oor.

Die tafel was gedek vir die 29-jarige Suid-Afrikaner om hulle verby te steek. Maar sy senuwees het hom op die 17de bof in die steek gelaat.

Frittelli het sy bofhou vér regs getrek – só ver dat hy buite perke was en twee strafhoue moes aanvaar voor hy kon aanspeel. Ná ’n so-so naderhou was die beste wat hy kon vermag ’n dubbele brouhou.

In ’n oogwink het Frittelli twee houe terug gesak, maar hy het darem nie met hangskouers op die agttiende bof gaan staan nie. Die hangskouers het eers ná sy bofhou daar gevolg, toe hy wéér in die lang gras beland het en nog ’n hou ingeboet het.

Dit was die Suid-Afrikaner se eerste twee foute van ’n andersins uitmuntende dag wat vyf voëltjies oor die eerste 15 putjies opgelewer het.

Vir ’n speler wat in sy vorige agt major-toernooie vyf afsnypunte gemis het, moes dit soos ’n droom gevoel het om saam met die groot honde te blaf. Hy het uiteindelik vir ’n ronde van 69 (-2) geteken, wat hom redelik naar moes maak.

South Africas Justin Harding on the 18th during da
Justin Harding. Foto: Getty Images

Ná Frittelli se nagmerrie-einde is hy net die naasbeste Suid-Afrikaner op die voorlopersbord. Die Bolander Justin Harding se wonderlike 65 (-6) in die oggendsessie het hom gedra tot ’n totaal van 6-onder en die gesamentlike vyfde plek.

Harding het Donderdag net aandag getrek omdat hy by die vyfde putjie sy bal uit ’n sandkuil moes slaan en dadelik ná die hou sy balans verloor en op sy alie in die sand beland het.

Vrydag was daar egter vir dié Suid-Afrikaner geen sprake van struikel nie. Hy het altesaam ses voëltjies en ’n arend aangeteken om sy droom van ’n eerste major-titel vlerke te gee.

Nog ’n Johannesburger, Erik van Rooyen, is ook binne trefafstand van die voorlopers. Hy is ná ’n 68 net vier houe agter Holmes en Lowry.

Saam met Harding, Van Rooyen en Frittelli het Ernie Els (2-onder na 'n 69), Branden Grace (1-onder na 'n 71) en Louis Oosthuizen (gelyk aan syfer na 'n 72) ook die valbyl oorleef.

Northern Irelands Rory McIlroy waves on the 18th d
Rory McIlroy. Foto: Getty Images

Twee van die grootste honde in die toernooi, Tiger Woods en Rory McIlroy, was egter nie so gelukkig nie. Albei het die prys betaal vir treurige Donderdag-vertonings.

Woods het sy Donderdag-78 opgevolg met 'n Vrydag-70, maar steeds op 6-onder vyf houe buite die afsnypunt in die gesamentlike 119de plek geëindig.

Hy het na die tyd volgens The Guardian gesê hy "wil net huis toe gaan" en bygevoeg dis moeilik om te aanvaar dat sy 43-jarige lyf hom nie toelaat om week na week 'n hoë standaard te handhaaf nie.

McIlroy verdien die grootste lof denkbaar vir sy spel Vrydag. Sy ronde van 65 (-6) was 'n yslike 14 houe beter as Donderdag se foutbesaaide 79, en het hom die afsnypunt met 'n enkele hou sien mis. Hy kan voorwaar trots wees op 'n vegtersvertoning wat sewe voëltjies ingesluit het, maar dit sal hom nog lank brand dat hy nie die naweek-rondes van sy geboorteland, Noord-Ierland, se eerste Britse Ope in 68 jaar kon meemaak nie.

Voorlopersbord

Meer oor:  Gholf  |  Dylan Frittelli  |  Lee Westwood  |  Britse Ope  |  Shane Lowry  |  Tommy Fleetwood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.