Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Dylan weer dinamiet by Britse Ope

Wanneer dit pap reën, moet jy skep. Dit is duidelik wat Dylan Frittelli besluit het om te doen terwyl die gholfgode hom tans met wonderlike spelpeil bederf.

Dylan Frittelli het die eerste oggendsessie van die Britse Ope net ’n enkele hou agter die vroeë voorloper afgesluit. Foto: Getty Images

Net vier dae nadat hy sy eerste titel in die Amerikaanse PGA-reeks in Illinois gewen het, het Frittelli die eerste oggendsessie van vanjaar se Britse Ope by Royal Portrush in Noord-Ierland Donderdag stewig in die wedloop afgesluit.

Die 29-jarige Suid-Afrikaner is klubhuis toe met ’n agterstand van net een hou – en dit net omdat hy midde-in ’n harde reënbui sy enigste brouhou van die dag by die 18de putjie aangeteken het.

Dié rondte van 68 (drie houe minder as baansyfer) waarvoor hy in die klubhuis geteken het, het ook vier voëltjies ingesluit en plaas hom ’n hou agter die vroeë voorloper, die Ier Shane Lowry (67).

Ook op 68 is onder andere Sergio Garcia, Alex Noren en Webb Simpson.

Frittelli was die laaste speler wat vir die Ope gekwalifiseer het, nadat hy Sondag die John Deere Classic-toernooi gewen het. Hy moes inderhaas ’n vlug oor die Atlantiese Oseaan haal en kon maklik oorweldig word deur dié onverwagse bonus. Van onsekerheid of senuwees was daar egter geen teken nie.

Bomskok . . . Rory McIlroy se kop hang nadat hy die eerste ronde van die Britse Ope in sy geboorteland, Noord-Ierland, met ’n vierdubbele brouhou begin het. Foto: Reuters

Senuwees was daar wel vir die tuisspelers – heeltemal verstaanbaar ook, met die Ope vir die eerste keer in ’n yslike 68 jaar in Noord-Ierland.

Darren Clarke, Graeme McDowell en Rory McIlroy het almal die afgelope week vertel dat hulle eens gedink het ’n Ope in Noord-Ierland is ’n onmoontlike droom. Die droom het Donderdag waar geword – maar vir McIlroy, wat as 16-jarige ’n baanrekord van 61 opgestel het by Portrush, het dit gou ’n nagmerrie geword.

Hy het ’n groter applous as enige ander speler op die eerste bof gekry, maar toe word die oomblik te groot vir hom. Die viermalige major-kampioen het die toernooi afgeskop met ’n vierdubbele brouhou, wat ’n gedempte stilte oor die skare laat neersak het.

* Branden Grace het die Ope met ’n ronde van 70 (-1) geopen. Die Suid-Kapenaar het die bal goed geslaan, maar sou kon doen met ’n warmer setyster in ’n rondte wat drie brouhoue ingesluit het.

Zander Lombard het 71 houe gespeel en Christiaan Bezuidenhout 73.

Voorlopersbord

Meer oor:  Gholf  |  Britse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.