Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Els bult spiere in reeks vir seniors

Ernie Els het so ampertjies sy toetrede tot die gholfreeks vir goue oues op ’n wennoot begin.

Dié 50-jarige Suid-Afrikaner, wat vanjaar die eerste keer in die Amerikaanse PGA-reeks vir seniors speel, het Saterdag in die Mitsubishi Electric-kampioenskap in Hawaii, sy debuuttoernooi in dié reeks, ’n tweede agtereenvolgende ronde van 65 houe gespeel om saam met Miguel Angel Jimenez (Spanje) en Fred Couples (VSA) bo-aan die telbord op 14 houe minder as die baansyfer te eindig.

Ernie Els het met die intrapslag sy teenwoordigheid in die reeks vir seniors laat geld. Foto: Getty Images

Dié trio was daarna in ’n uitspeelstryd betrokke, met die 56-jarige Jimenez wat danksy ’n suksesvolle voëltjie-set van sowat 4 m op die tweede valbyl-putjie van die Hualalai-baan as die oorwinnaar gekroon is.

Anders as gewone PGA-toernooie, word dié in die senior reeks oor drie rondes beslis en Els is uiteindelik deur sy sukkel-begin, ’n 72 in die eerste ronde, gekniehalter.

Hy het egter erken dat hy voor sy debuut senuweeagtig was en weer soos ’n groentjie gevoel het.

“Die eerste dag was teleurstellend,” het Els Saterdagaand aan golfdigest.com gesê.

“Ek was amper heel laaste ná die eerste ronde, maar het myself reggeruk en toe nogal goeie gholf gespeel.

“Dis teleurstellend dat ek nie uiteindelik kon wen nie, hoewel ek ’n paar kanse gehad het om dit te vermag. Ek het uiteindelik net nie die spoed en lyn van ’n paar sethoue reggekry nie,” het die Big Easy gesê.

Jimenez het ’n telling van 68 houe aangeteken in die laaste ronde en was gelukkig op die 17de putjie, waar sy bal ná sy bofhou lawarotse getref en toe tot in ’n sandkuil gespat het, van waar hy toe ’n syfer-3 kon aanteken.

Els se landgenoot Retief Goosen (-12) het ook ’n goeie toernooi beleef en vierde geëindig. Hy het met ’n skitterende 64 afgesluit, maar sal sy telling van 73 in die tweede ronde berou. – Sportredaksie

Meer oor:  Ernie Els  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.