Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Erik laat SA vlag in Swede wapper
Lekker man, lekker. Suid-Afrika se Erik van Rooyen (regs) en sy joggie, Alex Gaugert, wat ’n ou Amerikaanse universiteitsmaat van hom is, nadat Van Rooyen Sondag die Skandinawiese Ope in Gotenburg gewen het. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se Erik van Rooyen het Sondag in Gotenburg, Swede, sy rekening in die Europese reeks geopen nadat hy die Skandinawiese Ope met een hou voor Matthew Fitzpatrick van Engeland beklink het.

Van Rooyen het die laaste ronde in 64 houe voltooi en het op 261, 19 houe onder die baansyfer geëindig met Fitzpatrick op 262 (-18).

Nóg ’n Suid-Afrikaner Dean Burmester, het saam met Henrik Stenson van Swede op 266 in die gesamentlike derde plek geëindig.

Die Wallieser Jamie Donaldson, die Amerikaner Sihwan Kim, Frankryk se Alexander Levy, Wade Ormsby van Australië die plaaslike gunsteling Sebastian Soderberg, het op 267 (-13) in die gesamentlike vyfde plek klaargemaak.

Dit was so hittete of Van Rooyen, wat in die laaste ronde met ’n voorsprong van een hou afgeslaan het, die oorwinning uit sy hande laat glip het.

Nadat hy ’n gerieflike voorsprong van drie houe ná die eerste nege putjies opgehou het en ses voëltjies oor die eerste 12 putjies aangeteken het, het hy drie keer op die 17de geset en ’n hou aan syfer afgestaan.

Dit terwyl Fitzpatrick, die kampioen van 2016, twee voëltjies oor die laaste twee putjies aangeteken het om kop aan kop met Van Rooyen op -18 te loop.

Maar die 29-jarige Van Rooyen het koelkop gebly en ‘n voëltjieset van sowat twee meter op die laaste putjie ingerol om aan Suid-Afrikaanse gholf sy 150ste sege in die Europese reeks te besorg.

“Dis te lekker, dis moeilik om te beskryf. Ek was só senuweeagtig op die 18de. Nadat ek nie op die 17de die sethou hard genoeg geslaan het nie, het ek aan my joggie (Alex Gaugert) gevra ‘waar staan ons?’. Hy het gesê dat Matt (Fitzpatrick) twee voëltjies aangeteken (en gelyk loop),” het Van Rooyen volgens europeantour.com gesê.

“Ek het die hele dag goed geset en toe ek daardie een (op die 18de) inrol, was dit baie koel vir my eerste oorwinning.

“Ek het voorheen ’n paar keer ná aan ’n oorwinning gekom en elke keer wanneer dit gebeur, word die vraag gevra. Ek is só trots op myself en Alex, aan almal. Ek is in die wolke,” het Van Rooyen gesê.

Hy het 250 000 euro (nagenoeg R4,2 miljoen Rand) met sy oorwinning verdien en die gholfwêreld lê nou aan sy voete.

* Nóg ’n Suid-Afrikaner, Zander Lombard (267) het in die gesamentlike 16de plek geëindig met Haydn Porteous op 271 in die gesamentlike 29ste plek. – europeantour.com

Meer oor:  Erik Van Rooyen  |  Gotenburg  |  Skandinawiese Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.