Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Erik steel Christiaan se kollig in Dubai
Erik van Rooyen van Suid-Afrika mik Donderdag blikkie toe op ’n setperk van die Jumeirah-baan in Dubai in die eerste ronde van die DP-wêreldkampioenskap. Foto: Getty Images

Ná sy heldedade op die plaaslike gholftoneel die afgelope ruk, was daar verstaanbaar groot afwagting Donderdag om te sien of Christiaan Bezuidenhout dalk op pad is na ’n magiese driekuns toe die DP-wêreldkampioenskap in Dubai begin het.

Dit was egter sy landgenoot Erik van Rooyen wat hom in die eerste ronde van die Europese reeks se jaarlikse groot eindtoernooi onder die voorlopers tuisgemaak het.

Dié Suid-Afrikaner was vir ’n ruk die voorloper, totdat die Fransman Victor Perez met ’n telling van 67 – vyf houe beter as baansyfer – die dag op die Jumeirah-baan as die alleenvoorloper afgesluit het.

Van Rooyen het een van sy beter rondtes in ’n lang tyd gelewer en het net op die syfer-3 vierde putjie teëspoed gehad.

Hy is met sy 68 (-4) saam met die jong Britte Matthew Fitzpatrick en Robert MacIntyre gesamentlik tweede.

Perez, wat verlede jaar as die Dunhill Links-kampioen by St. Andrews gekroon is, het ná sy poging gesê hy beplan om sorgelose gholf te speel.

Ek het niks om te verloor nie, veral met die posisie waarin ek nou is. So vir my is dit go for it vir die volgende drie rondes.
Victor Perez

“Ek het niks om te verloor nie, veral met die posisie waarin ek nou is.

“So vir my is dit go for it vir die volgende drie rondes.

“Natuurlik moet jy steeds behoorlike gholf speel, die regte houe slaan en die moeilike aspekte hanteer.

“Dit is vir my ’n kwessie van voëltjies maak en nie te veel kommer te hê oor die res nie,” het Perez aan europeantour.com gesê.

’n Groep van vier spelers – Tommy Fleetwood, Tyrell Hatton, Martin Kaymer en Sami Valimaki – is een hou agter Van Rooyen-hulle saam vyfde op 69.

Garrick Higgo

Die brouhou van die 21-jarige oud-Johannesburger Garrick Higgo op die 18de putjie (syfer-5), het ’n andersins belowende rondte so effens vir hom beduiwel, maar hy sou steeds tevrede wees met ’n wegspring-70 – drie houe agter die voorloper.

Bezuidenhout, wat met ’n oormaat selfvertroue en ’n baie stewige bankbalans in Dubai aangekom het, het danksy sy voëltjie op die 15de putjie sy 14de agtereenvolgende rondte beter as baansyfer voltooi.

Dit sluit in sy laaste rondte in die Amerikaanse Meesterstoernooi op Augusta en al vier rondtes in die afgelope Joburg Ope, Dunhill-kampioenskap en Suid-Afrikaanse Ope.

Die agtereenvolgende houe wat hy op die 12de en 13de aan syfer afgestaan het, het ’n demper op sy eerste dag geplaas.

Hy is ná ’n 71 (–1) saam met ’n groot groep spelers, wat sy landgenoot George Coetzee insluit, in die gesamentlike 18de plek.

Meer oor:  Christiaan Bezuidenhout  |  Erik Van Rooyen  |  Suid-Afrika  |  Dubai  |  Gholf  |  Europese Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.