Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Ernie-hulle ruk die brul uit Tiger se Yanks

Die eerste dag van die Presidentebeker-toernooi in Melbourne was ’n goeie een vir Tiger Woods, die speler. Maar vir Tiger Woods die kaptein was dit ’n nagmerrie.

Tiger Woods se dag het soet begin, maar suur geëindig. Foto: Getty Images

Ernie Els se Internasionale span het die eerste sedert die tweede dag van 2005 se kompetisie geword om met ’n voortou oor Amerika te gaan slaap, nadat hulle die beterbal-sessie van die eerste dag met 4-1 gewen het.

Woods, die VSA se spelende kaptein, en sy speelmaat Justin Thomas het die heel eerste punt op die spel ingeoes toe hulle die Aussie Marc Leishman en Chileense groentjie Joaquin Niemann ’n taai klap van 4 en 3 gegee het.

Dit was die Yanks se laaste hoera.

Daarna het die gety ferm in Els-hulle se guns gedraai. Suid-Afrika se enigste verteenwoordiger, Louis Oosthuizen, en sy speelmaat Abraham Ancer het in styl teruggeslaan deur die teoretiese kragspan van Dustin Johnson en Gary Woodland ook met 4 en 3 te verneder.

’n Verheugde Louis Oosthuizen omhels sy vrou Nel-Maré nadat hy en Abraham Ancer die Internasionale span se eerste punt van vanjaar se Presidentebeker-toernooi verdien het. Die Internasionale span het die eerste dag se beterbal-sessie met 4-1 gewen. Foto: Getty Images

Toe gryp die Aussie-gunsteling Adam Scott en Suid-Korea se Byeong Hun An die voortou deur die Amerikaanse groentjies Tony Finau en Bryson DeChambeau met 2 en 1 te klop, Kanada se Adam Hadwin en Sungjae Im seëvier met 1-voor oor Patrick Cantlay en Xander Schauffele en Hideki Matsuyama hou die nuweling C.T. Pan kalm om Webb Simpson en Patrick Reed met 1-voor van die deur te hou.

Els het die grootste glimlag suid van die ewenaar gedra – en met elke lyfhou vir die Amerikaners nóg breër geglimlag.

’n Dag soos dié het die Internasionale span in 14 lang jare nie beleef nie, en niemand buite Els-hulle se spankamer sou dit dié keer vir hulle voorspel het nie. Op papier is die Internasionale span seuns teen Amerika se ooms – maar die seuns het die wêreld net weer herinner dat gholf nie op papier gespeel word nie.

“Dit het gegaan oor voorbereiding, dis daardie cliché,” het ’n verheugde Els ná Matsuyama-hulle se oorwinning gesê. “Jy moet sorg dat jy so goed as moontlik voorbereid is en ’n goeie plan hê. Die week is nog lank, maar dit is ’n ongelooflike begin teen ’n uitstekende Amerikaanse span, en ons sal hierdie klein sessie-sege vier. Dis ’n bietjie anders as in vorige toernooie, nè?”

Woods, ’n man wat Els oor die jare soveel pyn toegedien het, het ’n bomskok-uitdrukking op sy gesig gehad en was aansienlik minder spraaksaam.

“Ons is nie klaar nie, ons is nog nie uit dit nie. Ons het ’n plan en noodplanne, so ons sal nou gaan praat oor dinge,” was sy kort reaksie.

Jy sal Woods kan vergewe as hy behoorlik onder sy spelers ingeklim het ná dié sessie. Hy het immers meer as sy deel gedoen, en toe hulpeloos langs die skoonvelde gestaan en kyk hoe niemand anders help nie.

Die Amerikaanse Meesterstoernooi het verlede week in sy Hero-uitdaagtoernooi in die Bahamas gewys hy het weer die peil wat hom in April die Meester van Augusta gemaak het, en by Royal Melbourne het hy dit Donderdag onderstreep. Die Amerikaanse kaptein het ses voëltjies in die 15 putjies van sy wedstryd aangeteken, waaronder twee by albei die eerste putjies.

Op die vyfde was daar boonop ’n tipiese Tiger-oomblik, toe hy die bal van voor die setperk ingekap het, en Thomas aangesê het om dit uit die blikkie te gaan haal.

In daardie stadium sou niemand voorspel dat hy die enigste Amerikaner sou wees wat vuurwerk lewer nie – maar nêrens anders was ’n Yank wat kon momentum opbou nie.

Die dag is min of meer opgesom deur Johnson se vergeetbaarste oomblik, by die elfde putjie teen Oosthuizen en Ancer.

Die kanonpoot het sy bofhou ’n asemrowende 326 treë tot drie voet van die vlaggie geslaan en ’n arend het onafwendbaar gelyk. Maar toe mis hy die sethou . . . en deel die putjie nadat Ancer ook ’n voëltjie aangeteken het. Met sy en Woodland (die Amerikaanse Ope-kampioen) se agterstand in daardie stadium reeds drie putjies, was dit hul laaste kans om sake te beredder. Dit het hulle glad nie gehelp dat Oosthuizen en Ancer se setysters vuurwarm was nie.

Im het in sy en Hadwin se wedstryd reeds op die eerste putjie die wind uit hul teenstanders se seile gehaal deur in te kap vir arend. Die tuisgunsteling Scott het sy ambisie om vir die eerste keer in 21 jaar deel van ’n wenspan te wees uit die staanspoor gewys en drie voëltjies aangeteken, en Matsuyama het ’n lang voëltjie-sethou by die sewentiende gesink om Reed en Simpson se moed finaal te breek.

Met die uitsondering van Woods is geen Amerikaner Donderdag so fyn dopgehou soos Reed nie – en die raserige Australiërs buite die toue het dit omtrent geniet om hom te spot vir die verneukery waarvoor hy Vrydag in die Hero-toernooi uitgevang is.

Reed is verlede week met twee strafhoue beboet omdat hy sand agter sy bal twee keer met kamstige oefenhoue weggevee het vir ’n beter lê. Hy kon Donderdagoggend net verleë glimlag toe ’n man by die eerste bof vir hom skree: “Patrick, dra jou joggie 14 stokke en ’n graaf?”

Dit is natuurlik nog heeltemal te vroeg om voor te stel Woods-hulle moet solank ’n graaf kan soek om hulself uit hierdie diep gat te grawe. Daar is immers nog drie dae se spel oor, en 25 punte om te probeer wen.

Maar Donderdag kon baie maklik ’n getydraaier gewees het vir ’n Internasionale span wat gewoond is aan bloedneuse.

Sedert hul enigste sege in die geskiedenis van die kompetisie – in 1998 by einste Royal Melbourne – het hulle sewe keer verloor en nooit gewen nie.

Ná hul vinnige begin sal Els en kie. desperaat wees om die stang die keer tussen die tande te hou.

Meer oor:  Presidentebeker  |  Tiger Woods  |  Ernie Els  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.