Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Presidente-beker: Ernie kies net 1 van SA

Ernie Els, die kaptein van die Internasionale span vir vanjaar se Presidentebeker, het huidige spelpeil bo ervaring of sentiment verkies om te bepaal wie sy vier kapteinskeuses vir Desember se kompetisie moet wees.

Ernie Els, die kaptein van die Internasionale span vir vanjaar se Presidentebeker. Foto: Getty Images

Els het Donderdagoggend sy 12-tal vir die stryd met die Amerikaners aangevul met Suid-Korea se Sungjae Im, die Chileen Joaquin Niemann, die Kanadees Adam Hadwin en die Australiese major-wenner Jason Day.

Dit beteken daar sal slegs een van Els se Suid-Afrikaanse landgenote by die Royal Melbourne-gholfklub wees: die major-kampioen Louis Oosthuizen.

Louis Oosthuizen is die enigste Suid-Afrikaner in die Internasionale span. Foto: Getty Images

“Ek het gekyk na ouens wat al ’n ruk lank goed speel,” het Els volgens Golfweek verduidelik.

Im, wat verlede jaar die Amerikaanse PGA-reeks se Nuweling van die Jaar was, is net 21 jaar oud, maar het vanjaar 19de in die FedExbeker-reeks en 11de op die Internasionale Presidentebeker-ranglys geëindig. Hy het hierdie seisoen 16 top25-uitslae gehad.

Els het gesê Im “het homself met sy veelsydigheid in die span ingespeel. Hy was altyd deel van ons planne.”

Niemann vier Donderdag sy 21ste verjaardag, maar het in Els se opinie vanjaar soos ’n man veel ouer as dit gespeel.

Hy is die eerste Chileen nóg in ’n Presidentebeker-span.

“Ek het nie gaan soek vir Joaquin, wat 20 is, of Sungjae, wat 21 is nie,” het Els volgens Golf Channel gesê. “Hulle het hulself in die span gekry. Ek was beslis nie so goed (soos hulle) op 20, 21 nie, maar hierdie ouens is wêreldklas en het hulself bewys.”

Die 31-jarige Day sal in sy geboorteland in sy vyfde Presidentebeker speel. Sy onlangse spelpeil is nie wonderlik nie, met ’n enkele toptien-uitslag sedert April, maar Els het meer belang gestel in sy ander deugde.

“Hy is absoluut 100% toegewyd. Hy wil ’n paar dinge regstel, maar ek het vir hom gesê hierdie is nie ’n eenman-partytjie nie. Hy is ’n wêreldklas-speler wat onder druk kan speel. Dis wat ons nodig het.”

Die enkele Suid-Afrikaner in die Internasionale span is die minste sedert 1998, toe Els die land se enigste verteenwoordiger was.

Daardie jaar het die kompetisie ook by Royal Melbourne plaasgevind – en het die Internasionale span sy enigste oorwinning in die 12 uitgawes van die Presidentebeker behaal.

In 2003 by Fancourt in George is die beker gedeel. Amerika was baas in al tien die ander kompetisies.

Die Yanks se kaptein, Tiger Woods, sal sy kapteinskeuses later Donderdag aankondig. Hy sal homself waarskynlik in sy 12-tal insluit nadat hy twee weke gelede in Japan gewen het.

Meer oor:  Presidentebeker  |  Ernie Els  |  Gholf  |  Louis Oosthuizen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.