Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Ernie toor ‘seuns’ se koppe reg
Juig, mense, juig! Ernie Els speel kondukteur vir die Australiese skare op die tweede dag van ’n Presidentebeker wat aansienlik beter begin het as wat enigiemand vooraf verwag het. Foto: Getty Images

In ’n goue loopbaan van twee dekades het Ernie Els ’n gholflegende geword omdat hy met die 14 gholfstokke in sy gholfsak kon toor.

Vandeesweek in Melbourne bevind hy hom in ’n rol waar sy gholfstokke nie saakmaak nie. Nou toor hy maar op ander maniere.

Ongeag wat die naweek-aksie van die 13de Presidentebeker Saterdag en Sondag oplewer sal Els vir altyd kop omhoog kan loop oor die impak wat hy vandeesweek as kaptein van die Internasionale span gemaak het.

Kom hier, jou doring! Tiger Woods ruk sy speelmaat Justin Thomas aan die trui nader nadat die jonger Amerikaner Vrydag in Melbourne ’n lang sethou gesink het om ’n volpunt in die Presidentebeker te verseker.Foto: Getty Images

As die telbord as maatstaf gebruik word, verdien almal betrokke by die Internasionale span ’n klop op die skouer. Vrydag was hulle die eerste keer sedert 2005 voor ná die tweede sessie van ’n Presidentebeker, en net 15 goue Amerikaanse minute weg van ’n telling so groot as 9-1.

Hulle het eindelik gaan slaap met ’n voorsprong van 6½-3½, nadat Xander Schauffele en Justin Thomas lang sethoue ingerol het vir volpunte, en Rickie Fowler ’n kortetjie ingejaag het vir ’n halwe punt.

Maar in ’n stadium was daar nie ’n enkele Amerikaanse vlag op die telbord nie, met die Internasionale span óf seëvierend óf voor óf gelyk in al vyf wedstryde.

Els is gevra of hy teleurgesteld is, maar het onmiddellik gesê hy het perspektief daaroor. “Ek moet kyk na waar ons is, eerder as waar ons kon wees,” het hy aan ABC News in Australië gesê.

Ek moet kyk na waar ons is, eerder as waar ons kon wees.
Ernie Els

Dis presies die uitkyk wat hy op vanjaar se Presidentebeker geneem het sedert hy twee jaar gelede as kaptein aangewys is. As speler het die Big Easy albei die Internasionale span se grootste oomblikke – die sege in 1998 in Melbourne en gelykopuitslag in 2003 by Fancourt meegemaak, maar ook met afgeremde mondhoeke rondgeloop in die nederlae van 1996, 2000, 2007, 2009, 2011 en 2013.

Soos almal het hy besef ’n heel nuwe resep moet vanjaar gevolg word en onmiddellik daarvan begin werk maak. Hy het begin met klein dingetjies soos die ontwerp van ’n nuwe skild vir die span en gesprekke met sy potensiële spanlede waar hy hulle ook al raakgeloop het . . . en toe oorgeslaan na groot kwessies soos hoeveel kapteinskeuses hy kan maak, hoe die spelers saam met wie hy die skip wil omdraai voel oor die kompetisie, hoe hy sy kombinasies elke dag sou kies.

Wat oor die afgelope dae duidelik geword het, is dat Els dit reggekry het om sy twaalftal spelers – die jongste Internasionale span ooit, van nege verskillende lande en vyf verskillende vastelande – tot ’n hegte eenheid met ’n gedeelde doelwit saam te snoer.

Byeong-hun An (AFP)

“Ernie vertel knaend vir ons dat ons die beste spelers in die wêreld is,” het die jong Koreaan Byeong Hun An – een van sewe Presidentebeker-groentjies in Els se span – voor die toernooi aan Golf Digest gesê. “Dit voel of ons in dieselfde span is, eerder as om verskillende lande te verteenwoordig. Ons speel vir Ernie. Ons kan sien hoe passievol hy is en hoe graag hy wil hê ons moet wen.”

Nóg ’n nuweling, die Aussie Cameron Smith, het nie doekies omgedraai oor sy ambisie vir die week nie. “Ek is hier om ’n taak te verrig vir Ernie,” het hy gesê.

“Van die begin af was Ernie pens en pootjies in hierdie ding,” het die Kanadees Adam Hadwin gesê. “Hy het alles moontlik gedoen om ons vir hierdie week voor te berei.

"Nou is dit in ons hande. Daar sal geen beter manier wees om hulde aan Ernie te bring as met ’n oorwinning nie.”

Nou is dit in ons hande. Daar sal geen beter manier wees om hulde aan Ernie te bring as met ’n oorwinning nie.
Adam Hadwin

Met 20 punte Saterdag en Sondag op die spel, bied die driepunt-voorsprong waarmee Els-hulle Vrydag gaan slaap het, natuurlik geen waarborge nie. Maar dit is ’n feit dat die Internasionale span by die toernooi opgedaag het met ’n heel ander ingesteldheid en benadering as die oorgrootte meerderheid van hul voorgangers.

En oor die eerste twee dae was dit presies die eliksir wat hulle nodig gehad het.

Daarvoor verdien Els sakke vol krediet.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Ernie Els  |  Australie  |  Vsa  |  Kaptein  |  Presidentebeker  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.