Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Europeërs glo Tiger gaan weer seëvier

Die meerderheid beroepspelers in die Europese Reeks het in ’n anonieme peiling aangedui hulle dink dat Tiger Woods nog ’n Major-gholftitel kan wen.

Tiger Woods gaan beslis nog ’n Major wen, meen die meerderheid spelers in die Europese Reeks in ’n anonieme peiling. Foto: Getty Images

In die peiling deur golf.com is 34 Europese spelers gevra of hulle dink dat die Amerikaner weer een van die vier grotes kan wen en 73% het ja gesê.

Onder die 34 wat deelgeneem het, was vier Major-wenners en ses Ryderbeker-spelers.

Woods het sy laaste (en 14de) Major in 2008 se Amerikaane Ope gewen.

Slegs 18% meen dat Woods nie nog ’n grote gaan losslaan nie en dus nie Jack Nicklaus se rekord van 18 Majors gaan inkatrol nie. Altesaam 9% is nie seker nie.

“As hy in die volgende twee jaar gesond kan bly, gaan hy weer die wêreld se voorste speler wees,” het een speler in sy kommentaar gesê.

Woods was ook ’n veel gewilder keuse toe spelers gevra is of hulle saam met hom, of saam met Phil Mickelson aandete wil eet.

Rory McIlroy gaan vanjaar nog ’n grote wen, reken ’n groot persentasie van sy Europese beroepsgenote. Foto: Getty Image

Die linkshandige Mickelson het net 9% teenoor Woods se 79% gekry.

“Ek het al voorheen saam met Phil aandete geëet en glad nie sy geselskap geniet nie. Ek sal graag by Tiger wil hoor hoe hy al sy teëspoed oorkom het. Ek dink dit sal my ook kan help,” het ’n speler geskryf.

Bykans al die spelers (97%) is oortuig daarvan dat Rory McIlroy nog ’n Major gaan wen, ondanks ’n onlangse insinking in sy spel.

Die Noord-Ierse ster het al vier Majors gewen, maar sy laaste was die Amerikaanse PGA in 2014. Tog glo 46% van die deelnemers aan die peiling dat hy sommer vanjaar weer in ’n grote gaan koning kraai.

Die Amerikaanse Meesters is steeds die Major wat die meeste spelers in die Europese Reeks wil wen, het 59% in die peiling aangedui.

Die tweede gewildste grote op deelnemers se wenslysie is die Britse Ope. Net 3% het die Amerikaanse Ope gekies en nie ’n enkele een het die PGA as voorkeur-Major uitgelig nie.

Bryson DeChambeau is die Amerikaanse speler wat die Europeërs die meeste irriteer. Foto: Getty Images

McIlroy het 29% van die stemme gekry as Europese speler wat die meeste natuurlike talent het, gevolg deur die Spanjaard Sergio Garicia met 21%. Engeland se Justin Rose (64%) is was die gewildste keuse as beste speler wat tans in die Europese Reeks in aksie is.

Meer as ’n derde van die deelnemers (38%) het gesê hulle het al met ’n babelas aan ’n toernooi deelgeneem en 45% het gesê hulle het al gesien hoe ’n medespeler in ’n ronde kul.

Net 3% het gesê hulle het wetende een van die spel se reëls oortree en dit nié by ’n beampte aangemeld nie.

Bykans almal (92%) het gesê die Europese span wen gewoonlik die Ryderbeker-toernooi omdat daar ’n beter gees onder die spelers is as in die Amerikaanse span.

Bryson DeChambeau is gekies as die Amerikaanse speler wat Europeërs die meeste irriteer (16%), gevolg deur Bubba Watson (11%).

Een speler het in sy kommentaar geskryf: “Is julle seker ek kan net één Amerikaner kies?”

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Europese Reeks  |  Pga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.