Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Frittelli wil sy SA droogte beëindig

In agt jaar van beroepsgholf het Dylan Frittelli al vyf keer sy hande om ’n trofee gevou, op plekke so ver verwyderd van mekaar as Mauritius, Switserland en die VSA.

Maar op ’n paadjie wat hom tot boaan die Suid-Afrikaanse amateur-ranglys en daarna deur die Amerikaanse universiteite-stelsel na die Europese reeks en uiteindelik die PGA-reeks geneem het, was ’n beroepsege op Suid-Afrikaanse bodem dié gebore Johannesburger nog nie beskore nie.

Dylan Frittelli Woensdag by die Gary Player-buiteklub, waar hy hoop om Sondag as Suid-Afrikaanse Ope-kampioen gekroon te word. Foto: Getty Images

Vandeesweek wil hy dít verander.

Frittelli is een van die groot honde in die Suid-Afrikaanse Ope, wat Donderdag vir die eerste keer tot nog toe op Sun City se Groen Monster, die Gary Player-buiteklub, beslis sal word.

Die 30-jarige Suid-Afrikaner is geen vreemdeling vir dié baan nie, met twee verskynings in die Nedbank-uitdaagtoernooi, wat gewoonlik hierdie tyd van die jaar by die Sonstad plaasvind.

In ’n Zoom-gesprek verlede week met Gholf RSA se voorste jong amateurs het hy voorspel dat enigiets tussen 18-onder en 20-onder sal nodig wees om vandeesweek te wen, en dus baie voëltjies. Dis nie ’n telling waarby Frittelli al op dié baan kon uitkom nie – maar drie weke ná hy vyfde in die Amerikaanse Meesterstoernooi geëindig het, gaan hy baie moeilik oortuig word dat hy nie vanjaar die bordjies kan verhang nie.

“Die Suid-Afrikaanse Ope is een toernooi wat ek vreeslik graag wil wen,” het Frittelli vroeër vandeesweek in ’n Sonskynreeks-verklaring gesê. “Ek het dit altyd as ’n kind gekyk en veral die groot tweestryd tussen Ernie Els en Retief Goosen in 2005 het my nog altyd bygebly.

Ek het al gewen in die Europese reeks en die PGA-reeks, en as ek nooit die SA Ope wen nie, gaan dit beslis soos ’n leemte in my loopbaan voel.

“Toe ek gehoor het die SA Ope is vanjaar by Sun City het ek dadelik gedink dit sal goed wees vir my, want dis ’n baan wat my pas en waar ek al heel goed gevaar het in die Nedbank-toernooi.

“Ek het al gewen in die Europese reeks en die PGA-reeks, en as ek nooit die SA Ope wen nie, gaan dit beslis soos ’n leemte in my loopbaan voel.”

Frittelli het verlede maand voorgeloop ná die eerste ronde van die Meesterstoernooi en oor die loop van die volgende drie dae die stemme in sy kop en duiwels in sy swaai te bowe gekom om vir die eerste keer tot dusver in die toptien in ’n major te eindig.

Hy is regtig tevrede met waar hy nou in sy loopbaan is, het hy verlede week aan die land se voorste junior spelers gesê. Die kersie op die koek van ’n vreemde jaar waarin hy onder meer Covid-19 gehad het, sal ’n triomf by die huis wees.

Frittelli sal die veldtog om sy Suid-Afrikaanse droogte te beëindig Donderdag begin in ’n driebal wat hope aandag gaan kry, want die opwindende jongelinge Wilco Nienaber en Jayden Schaper sal saam met hom speel.

Nienaber (20) het twee weke gelede tweede geëindig in die Joburg Ope en Schaper was die afgelope Sondag gesamentlik tweede in die Alfred Dunhill-kampioenskap.

Schaper spog ná net vyf toernooie in die Europese reeks reeds met twee toptien-uitslae, met die ander een wat gekom het toe hy in Januarie as amateur sesde in die SA Ope by Randpark was.

Die nuwe Dunhill-kampioen, Christiaan Bezuidenhout, sal in die eerste twee rondes speel saam met die Oostenryker Matthias Schwab en die land se voorste amateur, Casey Jarvis.

Tradisioneel speel die nr. 1-amateur saam met die verdedigende kampioen in die SA Ope, maar Branden Grace is nie vandeesweek by Sun City om sy titel te verdedig nie.

Jarvis is een van agt amateurs wat sal jag maak op die Freddie Tait-beker, wat Schaper in Januarie gewen het. Die ander sewe is Yurav Premlall, Christiaan Maas, Jordan Duminy, Christo Lamprecht, Kyle de Beer, Sam Simpson en Massimo Mbetse.

Meer oor:  Gholf  |  Suid-Afrikaanse Ope  |  Dylan Frittelli
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.