Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Gaan SA gholf se wendroogte voortduur?
Kan Louis Oosthuizen die naweek Suid-Afrikaanse gholf se major-droogte in die PGA-kampioenskap beëindig? Foto: Getty Images

Daar was ’n tyd in die vroeë 2000’s wat Ernie Els en Retief Goosen se name ’n instelling was onder die gunstelinge wanneer daar vir major-toernooie aangetree is.

Hulle het immers in daardie tyd saam met Tiger Woods, Phil Mickelson en Vijay Singh as die spel se Groot Vyf bekend gestaan.

Dié Suid-Afrikaanse duo het Europese gholf oorheers en daar was ook ’n puik oes aan major-titels.

Goosen het in 2001 by Southern Hills die vierde Suid-Afrikaner ná Bobby Locke, Gary Player en Els geword wat ’n grote kon wen, toe hy in die Amerikaanse Ope geseëvier het.

In 2002 het Els by Muirfield sy naam op die Claret Jug laat uitkerf in die Britse Ope en in 2004 het Goosen by Shinnecock Hills sy tweede Amerikaanse Ope-titel verower.

Toe tree die nuwe generasie sterre na vore.

Trevor Immelman pronk in 2008 met Augusta se groen baadjie en Louis Oosthuizen wen twee jaar later die Britse Ope met ’n yslike sewe houe by die tuiste van gholf, St. Andrews.

Charl Schwartzel word in 2011 die Amerikaanse Meesterskampioen en Els wen in 2012 – ’n paar maande voor sy 42ste verjaardag – die Britse Ope ’n tweede keer.

Daarna het Suid-Afrika se major-hoop onverklaarbaar vervaag, met nie Immelman, Schwartzel of Oosthuizen wat sedertdien nog major-glorie kon verwerf nie.

Trouens, Immelman is deesdae meer tuis agter die mikrofoon as ’n kommentator as op die baan.

Die Amerikaner Brooks Koepka is oorgehaal om die PGA-kampioenskap ’n derde opeenvolgende keer te verower. Foto: Getty Images

Oosthuizen en Schwartzel slaan Donderdag saam met hul landgenote Erik van Rooyen, Christiaan Bezuidenhout, Dylan Frittelli en Shaun Norris in die PGA-kampioenskap op die TPC Harding Park-baan af.

Nie een van die Suid-Afrikaners lyk op die keper beskou na ’n realistiese aanspraakmaker op dié munisipale baan in San Francisco nie.

Oosthuizen was wel die afgelope naweek heel skaflik met vier rondes in die 60’s vir ’n gesamentlike sesde plek in die St. Jude-toernooi, terwyl Van Rooyen ook onder die voorste 20 spelers geëindig het.

Branden Grace was saam in die tweede plek in die Barracuda-kampioenskap in Kalifornië, toe hy hom Saterdag weens ’n positiewe Covid-19-toets aan die toernooi moes onttrek.

Met Grace in selfisolasie, lei Oosthuizen Suid-Afrika se aanslag.

Dit is egter die Yanks Justin Thomas, Bryson DeChambeau en Brooks Koepka wat saam met Jon Rahm en Rory McIlroy as die groot gunstelinge beskou word.

Koepka het ’n derde agtereenvolgende PGA-kampioenskapstitel in sy visier.

Die Aussie Peter Thomson is die laaste speler wat ’n driekuns in dieselfde major-toernooi behaal het – van 1954 tot 1956 in die Britse Ope.

• Dit sal Donderdag 382 dae gelede wees wat Shane Lowry die Claret Jug by Royal Portrush omhoog gehou het.

Vanweë die koronavirus is die PGA-kampioenskap vanjaar vir die eerste keer in die geskiedenis die eerste major van die jaar.

Die Amerikaanse Meesterstoernooi word tradisioneel in April by Augusta beslis, maar dit sal vanjaar in November gehou word.

• Die beroepswedder William Hill glo nie enige van Suid-Afrika se afdeling by Harding Park het juis ’n kans om die PGA-kampioenskap te wen nie.

William Hill se wedsyfers vir die SA spelers is:

66/1: Louis Oosthuizen

150/1: Erik van Rooyen, Christiaan Bezuidenhout, Charl Schwartzel

200/1: Dylan Frittelli

500/1: Shaun Norris

Die oud-Suid-Afrikaner Rory Sabbatini, wat deesdae as Slowaakse burger speel, se wedsyfer is 150/1.

Meer oor:  Pga-Kampioenskap  |  Gholf  |  Europese Reeks  |  Pga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.