Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Garrick en Louis kan begin pak vir Spele

Ná twee dae van asem ophou kon Garrick Higgo Maandag uiteindelik ontspan – sy afwesigheid in die naweek-aksie van die Amerikaanse Ope het hom nie sy plek in Suid-Afrika se Olimpiese span gekos nie.

Ondanks die feit dat Higgo Vrydag die afsnypunt in die tweede Grand Slam-toernooi van sy loopbaan gemis het, het hy met een posisie geklim op gholf se jongste wêreldranglys, van 39ste tot 38ste. Dit beteken hy is steeds die land se naasbeste gholfspeler, met net Louis Oosthuizen hoër as hy.

Garrick Higgo kan sy tasse solank begin pak vir die Olimpiese Spele in Tokio. Foto: AP

Die Amerikaanse Ope was die laaste toernooi waarin spelers ranglyspunte vir Olimpiese kwalifikasie kon insamel, met die wêreldranglys van 21 Junie wat bepaal wie genooi word.

Suid-Afrika kan sy twee beste gholfspelers op dié lys stuur en net laer afgaan as een van die twee nee dankie sê. Dié scenario het in 2016 afgespeel, toe Oosthuizen, Charl Schwartzel én Branden Grace besluit het om nie na die Spele in Rio de Janeiro te gaan nie.

Dis onwaarskynlik dat Oosthuizen en Higgo hul rug op die Spele sal keer – en Saskok en die Sonskynreeks sal in elk geval hand en tand veg om die land se twee warmste spelers van die afgelope paar maande in Tokio te hê.

Higgo kon wel sy uitnodiging kwyt gewees het as die Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Christiaan Bezuidenhout, Sondag by Torrey Pines beter gevaar het.

Bezuidenhout sou Higgo op die ranglys verbygesteek het as hy in die toptien by Torrey Pines geëindig het en kon steeds droom toe hy Saterdagaand met ’n aandeel aan die negende plek gaan slaap het.

Ná tweede plekke in albei die laaste Grand Slams sal Suid-Afrikaners baie teleurgesteld wees as Louis Oosthuizen weer besluit om nie ’n Olimpiër te word nie. Foto: Reuters

Die grille en giere van Torrey Pines het hom Sondag hard terug aarde toe geruk. Soos vele ander spelers (wat groot honde soos Rory McIlroy en Bryson DeChambeau insluit) het Bezuidenhout veral tussen die 11de en 13de putjies swaargekry, waar hy drie brouhoue aangeteken het.

Dit was ’n slag waarvan hy nie kon herstel nie en ná ’n ronde van 76 (vyf houe meer as baansyfer) moes hy uiteindelik met die gesamentlike 31ste plek tevrede wees.

Bezuidenhout is, soos verlede week, steeds 46ste op die wêreldranglys en die land se nr. 3-speler.

Grace het wel onder die toptien geëindig, nadat hy Sondag 67 houe aangeteken het wat hom tot die gesamentlike sewende plek gehelp het.

Net hy en die kampioen, Jon Rahm, kon vir die duur van die toernooi so ’n lae telling aanteken.

Dié 33-jarige Buffelsbaaier het ’n buitekans gehad om Higgo op die ranglys in te haal, maar net as hy onder die toptwee geëindig het. Hy het eindelik met 11 plekke geklim, van 71ste tot 60ste in die wêreld.

Oosthuizen se hartverskeurende tweede plek by Torrey Pines het hom darem op die ranglys gestu. Hy is nou 12de – sy hoogste posisie sedert April 2016.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.