Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Garrick terug op sy geliefkoosde baan

Ná 2020 weet almal nou hoe lank ’n jaar kan wees – maar as jy wil weet presies hoe baie in 12 maande kan verander, hoef jy net met Garrick Higgo te gesels.

Garrick Higgo in verlede week se Joburg-ope. Foto: Getty Images

Hy het 51 weke gelede blinkoog en vol drome by die Leopard Creek-gholfbaan buite Malelane vir sy buiging in die Europese reeks opgedaag. Hy het gehoop vir ’n goeie uitslag op ’n baan waar hy as amateur goed gevaar het, maar hy moes die Vrydagmiddag sy sluitkas leegmaak nadat hy nie die afsnypunt kon oorleef nie.

Vandeesweek is hy terug by dié gholfjuweel neffens die Kruger-wildtuin, as ’n wenner in die Europese reeks, ’n lid van die wêreld se top-100 en binne trefafstand van ’n uitnodiging na aanstaande maand se geldryke DP-wêreldkampioenskap in Dubai.

Sy bankrekening is boonop byna R5 miljoen sterker as toe hy laas by Leopard Creek se hekke ingery het.

Dat die manier waarop die baan hom verlede jaar gebyt het nog nie uit sy gedagtes is nie, was Woensdag duidelik toe die 21-jarige Higgo met die Europese reeks se webwerf oor sy verwagtinge vir die week gesels het. Maar sy hart klop steeds tjoklits vir die Leopard Creek-uitleg.

“Dit is waarskynlik my gunsteling-baan in die hele wêreld,” het hy gesê. “Jy kan voel ons is hier in die bos, ek hoop maar net ek slaan nie die bal in die bosse nie.

“Verlede jaar het ek gesukkel, maar die baan is dié week sagter en die gras in die sukkelveld is korter. So dis ’n bietjie meer pret om dié keer hier te speel as toe. Ek dink ons gaan hierdie week ’n goeie toernooi hê.”

Higgo het nog nie eens 40 toernooie in die Europese reeks op sy kerfstok nie (dit is nr. 34), maar hy het reeds ’n oorwinning in Portugal en nog drie top-tien-uitslae om mee te spog. Hy beklee tans die 67ste posisie op die Race to Dubai-punteleer, met die voorste 60 wat na die jaareindtoernooi in Dubai genooi sal word.

So ’n uitnodiging, in sy eerste volle jaar as beroepspeler, is iets waaroor hy ’n jaar gelede nie sou durf droom nie.

Met alle twyfel oor sy vermoëns op die Europese vasteland uit die weg geruim, het Higgo nou ’n gulde geleentheid om tuis ook groot hoogtes te bereik.

Voor die Joburg-ope (waarin hy 61ste was) was sy laaste toernooi in Suid-Afrika die Sonskynreeks se Toer-kampioenskap wat hy gewen het.

Wilco Nienaber was Woensdag in ligte luim tydens ’n oefenronde op Leopard Creek. Foto: Getty Images

• Natuurlik sal alle oë vandeesweek op die 20-jarige Wilco Nienaber wees, wat danksy sy blink vertoning in verlede week se Joburg-ope met 46 plekke op die Race to Dubai-leer geklim het, tot die 62ste posisie.

Nienaber was in ’n stadium Sondag by die Randpark-gholfklub drie houe voor, maar het tweede geëindig ná brouhoue op albei die laaste putjies.

Dít, het hy daarna gesê, was nie die einde van die wêreld nie.

“Ek’s regtig tevrede. Om tweede te eindig is sleg, wen is die lekkerste ding, maar ek is tevrede met hoe ek gespeel het en dit was net twee foute aan die einde wat my gekos het. Volgende week is nog ’n week,” het hy gesê.

Hoewel die mees gevestigde sterre van Suid-Afrikaanse gholf – Louis Oosthuizen, Branden Grace en die viermalige Dunhill-kampioen Charl Schwartzel – vandeesweek afwesig is, is daar genoeg uitstekende gholfspelers om vir ’n goeie toernooi te sorg.

Verlede jaar se wenner, Pablo Larrazabal, is terug om net die derde speler te probeer word wat twee keer agtereenvolgens die luiperdtrofee lig (naas sy Spaanse landgenoot Pablo Martin en Schwartzel).

Shaun Norris en Brandon Stone sal hoop hulle kan voortbou op verlede week se top-vyf-uitslae, en Danie van Tonder sal ’n Europese kroon probeer voeg by die vier titels wat hy in die Sonskynreeks se laaste ses toernooie gewen het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.