Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Legendariese Gary Player se jaar uit hel

Marizanne Kok gesels met Gary Player oor sy nagmerrie-jaar

Hul storie is een wat oor sewe dekades strek. Van die dag toe ’n 14-jarige Gary Player op die klip langs sy ouerhuis se muur gaan staan het om te sien hoe die buurdogter lyk, tot nou: ses kinders, 22 kleinkinders en twee agterkleinkinders later.

Ná sewe dekades blom die liefde steeds . . . Gary Player en sy geliefde vrou, Vivienne, wat tans ’n stryd teen pankreaskanker voer. Foto: Verskaf

Maar nou, ná 63 jaar van getroude lewe en ’n leeftyd van sakke sout deel, het die gholflegende uiteindelik die punt bereik waar hy wonder wanneer die laaste sand van hul tyd saam in die uurglas gaan afloop.

“Daar is geen twyfel nie: Die kanker gaan haar een of ander tyd inhaal. Ek weet net nie wanneer nie,” sê Player die afgelope week in ’n openhartige onderhoud oor die siekte waarteen sy vrou, Vivienne (83), die laaste maande stry. “Sy het pankreaskanker, een van die ergste kankers wat daar is. Ons weet eenvoudig nie hoe die pad vorentoe lyk nie.”

As my vrou gaan, gaan daardie liefde saam met haar by die venster uit en dit gaan vir my baie, baie moeilik wees.

Vir jare het Suid-Afrika se suksesvolste gholfspeler sy persoonlike handelsmerk gebou op amper oordrewe optimisme en vrolikheid. Daardie buksie-lyf kan ’n groot lag voortbring. Daardie 84-jarige oë het nog nooit gesukkel om die silwer rand om elke donker wolk te sien nie.

Maar die stem waarmee Player Woensdag oor die onwelkome besoeker in sy vrou se liggaam praat, is moeg, amper monotoon. Terwyl die kanker aan Vivienne se lyf knaag, beitel dit ook aan sy siel.

Gary Player
Gary Player. Foto: Getty Images

Is daar hoop, vra ek, vol verwagting vir ’n ja.

“Ons vat dit maar dag vir dag,” kom die antwoord, gevolg deur ’n rits sinne wat elkeen ’n “nee” uitbulder.

“Jy weet, my lewe was so vol liefde. Ek is dankbaar daarvoor. As my vrou gaan, gaan daardie liefde saam met haar by die venster uit en dit gaan vir my baie, baie moeilik wees. Ek is gewoond daaraan om vir haar drukkies te gee, ek sê vyf keer ’n dag vir haar hoe lief ek haar het. Dit gaan moeilik wees, ek is so gewoond daaraan om haar langs my te hê. Maar ek is gewoond aan teenspoed, ek het grootgeword daarmee. Ek sal eenvoudig moet aanpas,” sê Player.

Player het geen aanmoediging nodig om te praat oor sy lewe saam met Vivienne – “die beste vrou vir wie enige man nog ooit kon wens” – nie.

“Hulle het langs ons gebly in Booysens en ek was vrek nuuskierig om te sien hoe hierdie buurdogter lyk,” vertel Player met die lag kortstondig terug in sy stem. “Ek het ’n klip teenaan die muur gaan sit en daarop gestaan om te kyk of ek haar kon sien. En toe ek daar afklim, het ek na my broer gedraai en gesê, ek gaan met dáái meisie trou. Hy’t gedink ek is stapelgek!

“Maar dit is toe hoe dit uitgewerk het, en ons is vandag steeds saam – 63 jaar getroud. Jy weet, geen ander vrou sou met my getroud gebly het nie. Ek het meer tyd op vliegtuie deurgebring as enige ander mens op hierdie planeet, en dan bly sy by die huis met die kinders. Soms kon sy oorkom Amerika toe waar ek gespeel het, maar daai tyd het dit 40 uur gevat om daar uit te kom, want die vliegtuig het vier keer gestop. En daar’s nie beddens op die vliegtuig nie, nie televisie om die aandag af te trek nie. Jy sit kiertsregop en as die kinders wou slaap, moes hulle op die vloer lê.

“Dis die soort goed wat Vivienne maar aanvaar het sodat ek kon gaan gholf speel. En in my dae het ons nie die soort geld gemaak wat vandag se spelers kry nie, so ons het maar gesukkel.”

Oor die jare het die Players natuurlik gemakliker begin lewe – maar party goed, vertel hy, het nooit verander nie.

“Sy sit steeds elke oggend my klere op die bed uit vir my, soos sy nog al die jare gedoen het. En elke keer sê ek, nee, rus eerder, jy hoef dit nie meer te doen nie. Maar die volgende oggend doen sy dit weer.”

Hy sug.

Die Players in die vroeë 1960’s. Marc staan voor sy pa. Foto: Getty images

“Om ses kinders groot te maak met soveel liefde en so toegewyd te bly aan jou familie . . . Mens skop nie so ’n vrou agter elke bos uit nie.”

Gary en Vivienne bevind hulle tans in Pennsilvanië, by hul jongste dogter, Amanda-Leigh. Hulle is in Februarie daarheen sodat Player die Amerikaanse Vryheidsmedalje van pres. Donald Trump kon ontvang. Die koronavirus-pandemie het ’n stokkie voor daardie seremonie gesteek, maar die Players het in Schwenksville gebly terwyl landsgrense wêreldwyd toegemaak is.

“Ons sou vir drie dae gekom het. Nou is ons al ses maande hier, en ons sal seker nie voor volgende jaar weer kan teruggaan Suid-Afrika toe nie. Dis ’n bonus, die tyd saam met ons familie, maar terselfdertyd is ons tweede agterkleinkind drie maande terug gebore en ons kon nog nie oë op haar lê nie,” sê Player.

Die een voordeel van in Amerika wees, is dat Vivienne na Kalifornië kon gaan vir behandeling.

Dis ontsettend hartseer – ek was vir jare getroud met hierdie gesonde vrou . . .

“My kleindogter (Berlynn Hall) het ’n paar jaar gelede kanker in haar longe en maag gehad, maar wonderbaarlik daarvan herstel. Sy het daarna ’n organisasie gestig om die bestryding van kanker deur immunoterapie te bevorder.

“Ons familie glo nie aan chemoterapie of bestraling of daardie ingrypende dinge nie. Immunoterapie is ’n meer natuurlike behandeling met dinge soos nie-toksiese chemopille, vitamiene en ’n gesonde dieet.

“Deur my kleindogter het ons uitgekom by ’n kliniek wat kanker só behandel, die Issels-kliniek in Santa Barbara, en ons was ’n maand daar,” sê Player.

“Hulle maak mense links en regs gesond daar. My vrou is ook vyf keer beter vandat ons daar was, tot vandag, twee maande later. Sy het nou die dag bloedtoetse laat doen en die uitslae was uitstekend. Die kanker het gelukkig nog nie die lewer begin aanval nie, waarvoor ons baie dankbaar is.”

Eendjies, eendjies stap in ’n ry . . . Player, Vivienne en hul vier oudste kinders, Jennifer, Marc, Wayne en Michele, stap in Julie 1966 by Gleneagles in Skotland agter sy joggie aan.Foto: Getty Images

Player sê Vivienne sal in Oktober vir ’n skandering gaan om te sien of die kanker intussen versprei het.

Maar ondanks die bemoedigende uitslae van haar bloedtoetse, is Vivienne steeds nie die vrou wat sy was nie, sê haar man.

“Sy het al 60 pond (sowat 27 kg) verloor en is baie swak. Sy slaap omtrent 14 ure ’n dag en wou vir ’n ruk nie eet nie,” sê hy.

Player sê hulle is onseker hoe lank Vivienne al kanker het. “Haar gesondheid het sowat twee jaar gelede begin agteruitgaan, ná ’n galblaasoperasie wat nie baie glad verloop het nie.

“Toe het sy omtrent ’n jaar terug hier by my dogter se huis gegly en haar skedel gekraak. Sy het heeltemal opgehou asemhaal. My dogter het gelukkig net voor dit ’n noodhulpkursus gedoen en kon haar weer bybring, en die ander groot geluk was dat ’n ambulans net mooi toe hier verbygery het en haar na ’n helikopter kon neem wat haar hospitaal toe gevat het.”

Ek kan met sekerheid sê: My hart is vól liefde.

Hy haat dit om haar so te sien, sê Player.

“Dis ontsettend hartseer – ek was vir jare getroud met hierdie gesonde vrou . . .”

Die stormwaters waarin hulle is, laat Player vanselfsprekend deesdae meer dink oor die sterflikheid van die mens.

“Ek is nog baie fiks, nog baie jonk. Ek kan nog 350 pond (158 kg) met my bene lig, ek doen elke dag honderde opsitte, speel nog fantastiese gholf en is vol energie,” sê hy. “Maar op ’n dag besef jy, dit alles gaan eendag tot ’n einde kom. ’n Ding soos hierdie herinner jou die lewe is kort. Jy kan niks as ’n gegewe aanvaar nie, alles sal verbygaan. Dis hartverskeurend.”

Sy krag, sê Player, kom van sy geloof in Christus en die liefde in sy hart.

“ ’n Tibetaanse filosoof het in ’n stadium sy reëls vir ’n goeie lewe neergeskryf. Een, eet die helfte minder. Twee, oefen twee keer meer. Drie, lag drie keer meer. En vier, dra ’n matelose hoeveelheid liefde in jou hart.

“Dis die reëls wat ek ook aanhang, en ek kan met sekerheid sê: My hart is vól liefde.”

Player en sy oudste seun, Marc, sit nie meer langs dieselfde vuur nie.

Dit is natuurlik nie net Vivienne se siekte wat Player vanjaar van sy lewenslus probeer stroop nie, maar ook die verbrokkeling van sy verhouding met sy oudste seun, Marc.

Dit het in Junie rugbaar geword dat die Gary Player Group, waarvan Marc die uitvoerende hoof is, die gholfspeler sowat R85 miljoen skuld vir die onregmatige gebruik van sy beeldregte.

’n Paar dae later het Marc in ’n verklaring op sy pa se Twitter-rekening die sluier gelig oor die verbrokkeling van sy verhouding met sy ouers.

“Ek het werklik met hulle probeer versoen en ons dispute op ’n vriendelike wyse probeer bylê,” skryf hy daarin.

Player probeer die erns van die situasie met sy seun Woensdag eers afmaak as die blote verbrokkeling van ’n sakeverhouding. “Elke atleet wat ek ken, het in een of ander stadium ’n ander bestuurder gekry, dis bloot hoe dit werk,” sê hy aanvanklik.

Maar op ’n vraag of dit bloot in besigheid is waar hy en Marc nou om verskillende vure sit, erken hy: “Ons het ons sakebedrywighede geskei en dit het ongelukkig stremming op ons persoonlike verhouding geplaas.

“Dis moeilik om te sê of ons dit sal kan herstel,” voeg hy by. “Ons probeer dit uitsorteer, maar ons moet maar kyk wat die toekoms oplewer.”

Meer oor:  Gholf  |  Vivienne Player  |  Gary Player
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.