Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Woodland wen Amerikaanse Ope

Die 35-jarige Gary Woodland kan homself 'n major-kampioen noem na hy sy Amerikaanse landgenoot Brooks Koepka Sondag van groot geskiedenis weerhou het.

Woodland, 'n Kansas-boorling wat voor Sondag drie keer in die Amerikaanse PGA-reeks gewen het, het die Amerikaanse Ope by Pebble Beach met drie houe oor Koepka gewen - maar daardie wenmarge is 'n tikkie misleidend.

Gary Woodland glimlag breed met die trofee wat hy
Gary Woodland glimlag breed met die trofee. Foto: Getty Images

Die Yank was net twee houe voor 'n aanstormende Koepka toe hy sy bofhou by die syfer-3 sewentiende putjie tot in die voorste hoek van die groot setperk slaan - steeds 90 treë van die vlaggie. Met Koepka - major-gholf se Superman, met oorwinnings in albei die laaste Amerikaanse Ope-toernooie en albei die laaste Amerikaanse PGA-kampioenskappe - wat in sy nek geblaas het, moes Woodland iets dramaties doen om sy neus voor te hou.

Hy het: 'n kaphoutjie op die setperk wat reguit na die blikkie getrek het en eindelik net 2 voet daarvan geëindig het.

Met 'n onwaarskynlike syfer daar in die sakkie, het Woodland drie sethoue by die agttiende putjie gehad om te wen. Hy het net een nodig gehad: 'n bom van 30 treë wat van die begin af suiwer blikkie toe gehardloop het.

Danksy daardie voëltjie het Woodland vir 'n 69 op sy telkaart geteken en op 271 (-13) drie houe beter as Koepka (274 na 'n 68) geëindig. Koepka het gehoop om die eerste man in 114 jaar te word wat drie agtereenvolgende Amerikaanse Ope-titels wen, maar moes tevrede wees met 'n troosprys-brokkie geskiedenis: hy is nou die eerste man ooit wat al vier Amerikaanse Ope-rondes in minder as 70 houe voltooi, maar nie die kroon dra nie.

PEBBLE BEACH, CALIFORNIA - JUNE 16: Gary Woodland
Brooks Koepka kan sy oë nie glo nie na sy voëltjie-sethou by die agttiende putjie uit die blikkie gebly het. Foto: Getty Images

"Ek het myself nooit toegelaat om te ver vorentoe te dink nie," het Woodland volgens die PGA-reeks se webtuiste gesê. "Toe daardie sethou val (by die agttiende) het al my emosies uitgekom. Dis spesiaal om dit hier by Pebble Beach te doen."

Koepka was aan die begin van die dag vier houe agter Woodland, maar het blitsig in daardie voorsprong ingevreet met vier voëltjies oor sy eerste vyf putjies. Maar daarna was dit die Kansas-speler wat meer towerkuns opgelewer het - veral by die veertiende putjie, waar hy sy tweede hou met 'n 3-hout tot net langs die setperk van die 539 treë lange syfer-5 uitleg geslaan het en met 'n voëltjie weggestap het.

Soos Koepka is Woodland 'n atletiese kêrel, wat sy tande as sportman aanvanklik as basketbalspeler geslyp het voor hy met 'n gholfbeurs na die Kansas-universiteit is.

Sy triomf beteken dat al vier die laaste major-toernooie nou deur Amerikaners gewen is, twee deur Koepka en een deur Tiger Woods.

Woods het Sondag 21ste in die Amerikaanse Ope geëindig.

Louis Oosthuizen se aanslag op die Amerikaanse Ope-kroon het uitmekaar geval toe hy tussen die tiende en veertiende putjies vier houe laat val het. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se groot hoop, Louis Oosthuizen, het sewende geëindig na 'n ronde van 72 (een meer as baansyfer). Soos Koepka was hy vier houe agter na 54 putjies, maar hy kon Sondag nooit aan die gang kom nie en het sy aanslag sien eindig met 'n dubbele brouhou by die tiende putjie, waar hy in die lang gras langs die skoonveld beland het, en verdere brouhoue by die twaalfde en veertiende. 

Hy het op 278 sewe houe agter Woodland geëindig.

Volledige telkaart

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.