Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Gholf se weeskind word blinkgepoets

Die PGA-kampioenskap, wat Sondag sy 100ste verjaardag gevier het, betree volgende jaar ’n nuwe era en dié afgeskeepte gholf-major sal nooit weer as “Glory’s Last Shot” bekend staan nie.

’n Omskommeling op die kalender, wat in 2019 in werking tree, beteken dat die PGA-kampioenskap – tradisioneel die laaste van die vier majors – van Augustus na die middel van Mei skuif. Dié toernooi sal nou die tweede van die jaar wees en op die Amerikaanse Meesterstoernooi volg.

Brooks Koepka gaan reeds volgende jaar in Mei die Wanamaker-trofee, wat hy die naweek met sy sege in die PGA-kampioenskap verower het, verdedig. Foto: Getty Images

Hoewel die toernooi nou nie juis ’n ontrimpeling kry nie, sal sy nuwe tydgleuf wel bydra tot hernude belangstelling daarin.

“Ons is opgewonde oor die skuif na Mei,” het die kommersiële hoof van die Amerikaanse PGA, Jeff Price, vandeesweek in ’n onderhoud gesê.

“Om dié toernooi volgende jaar op Bethpage (in die staat New York) aan te bied as die tweede major van die jaar, is ’n wonderlike geleentheid.

“Dis midde-in die gholfseisoen (in die VSA) en sal mense inspireer om die spel te speel. Die tydsberekening is op verskeie vlakke uitstekend.”

Hoewel legendes soos Walter Hagen, Ben Hogan, Jack Nicklaus, Gary Player en Tiger Woods al die Wanamaker-trofee verower het, het dit nog nooit soveel prestige gehad as om die Meesters se Groen Baadjie of die Britse Ope se Claret Jug te verower nie.

As jy enige beroepspeler vra watter major hy die graagste wil wen, sal bitter min van die antwoorde die PGA-kampioenskap bo-aan die lys hê.

Die Amerikaanse tydskrif Sports Illustrated het die einste vraag in 2012 aan 50 beroepspelers gevra en die helfte van hulle het die Meesters eerste op hul wenslysie gehad. Die Britse Ope (25%) en Amerikaanse Ope (23%) het die naasmeeste en derde meeste stemme gekry. Slegs 2% van dié spelers het die PGA-kampioenskap bo-aan hul lys gehad.

Nie veel het die afgelope ses jaar verander nie. Thesandtrap.com het in Julie ’n soortgelyke peiling gedoen en dié keer was die syfers: Meesters (43%), Amerikaanse Ope (29%), Britse Ope (24%) en die PGA-kampioenskap wéér 2%.

Vir die grootste deel van sy 100-jarige bestaan was die PGA-kampioenskap die weeskind van die majors.

Met die PGA-kampioenskap, wat dikwels op oninspirerende bane plaasgevind het, het dié toernooi hom toe met die slagspreuk 'Glory’s Last Chance' as ’n laaste kans vir ’n major-triomf elke jaar bemark.

Sedert dit in 1916 die eerste keer gespeel is, het dit al in nege verskillende maande van die jaar plaasgevind. Tussen 1959 en 1970 en weer van 1972 tot vanjaar was dit die laaste major van die jaar.

’n Bykomende probleem was gholf se terugkeer as ’n Olimpiese sport. In 2016 moes die Amerikaanse PGA die PGA-kampioenskap in ’n vroeër tydgleuf laat plaasvind om vir die Olimpiese gholftoernooi plek te maak.

Dít het tot ongelukkigheid by talle spelers gelei, omdat hul programme te vol geraak het.

Die prestige-kwessie was ook nog altyd ’n kwessie vir die PGA-kampioenskap. Die Meesters word altyd op dieselfde baan (Augusta) gespeel, die Britse Ope is die oudste major en een van die bane waarop dit beslis word, St. Andrews, is die geestelike tuiste van die spel.

Die Amerikaanse Ope het hom op sy beurt geposisioneer as die moeilikste toets in gholf.

Met die PGA-kampioenskap, wat dikwels op oninspirerende bane plaasgevind het, het dié toernooi hom toe met die slagspreuk “Glory’s Last Chance” as ’n laaste kans vir ’n major-triomf elke jaar bemark.

Die skuif na Mei kan egter nou dié toernooi help om in statuur te groei en ook meer TV-kykers te lok.

Volgens Price glo hy daar kan soveel as 25% meer kykers in Mei as Augustus wees.

Die Amerikaanse PGA hoop ook om eersdaags ’n nuwe uitsaai-kontrak vir die PGA-kampioenskap te beding en glo hy sal munt kan slaan uit ’n nuwe, meer aanloklike tydgleuf op die kalender.

– Reuters

Meer oor:  Pga-Kampioenskap  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.