Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiener maak geskiedenis by Randpark

Die tiener Casey Jarvis het sy naam Donderdag by die Randpark-gholfklub in die annale verewig toe hy die jongste wenner tot nog toe van die Suid-Afrikaanse houespelkampioenskap geword het.

Jarvis het op die ouderdom van 16 jaar, ses maande en 17 dae ’n rekord verbeter wat vir 51 jaar agter die naam van die Suid-Afrikaanse gholflegende Dale Hayes gestaan het.

Casey Jarvis (16) het in die Suid-Afrikaanse houespelkampioenskap met die louere weggestap. Hy het die toernooi met nege houe gewen. Foto: Golf RSA

Hy het maklik oorheers en sy totaal van 263 – 25 houe minder as die Firethorn-uitleg se baansyfer – was nege houe beter as sy naaste teenstander, Kyle de Beer.

Hayes was 16 jaar en agt maande toe hy die titel in 1969 op Humewood in Port Elizabeth verower het.

Jarvis het hom verlede maand in die nr. 1-posisie op Golf RSA se nasionale ranglys vir amateurs gevestig toe hy in die Vrystaat- en Gauteng-Noord Ope geseëvier het.

Martin Vorster het hom in ’n stadium onttroon, maar die Boksburger is ná sy jongste sege terug boaan die ranglys.

Jarvis het al vier rondes met tellings van in die 60’s voltooi (66, 65, 67 en 65).

Hy het agterna die grootste lof gehad vir sy joggie, Tiger Lekhune, ’n man wat vir die grootste deel van Nick Price se loopbaan sy sak gedra het.

Lekhune was ook aan Jarvis se sy toe hy in Desember die Joburg Junior Ope op Randpark gewen het.

“My pa dra altyd my sak en ons het al ’n hele paar toernooie saam gewen.

“Tiger was my joggie in die Joburg Ope, so ek het hom weer gevra. Hy is al vir meer as 25 jaar by Randpark en hy lees die setperke beter as enigiemand anders wat ek ken.

“Hy help my ook om rustiger te wees. Ek loop vinnig, slaan vinnig en neem nie baie tyd met my sethoue nie.

“Tiger doen dinge stadiger en dit help om my om te fokus. Hy is so ervare en weet presies wanneer om wat te sê.”

Jarvis sê dit tel ook in sy guns dat die Firethorn-baan se setperke hom soos ’n handskoen pas.

“Ek is versot op hierdie setperke. As jy die bal op die regte lyn slaan en met die regte spoed, kan jy weet dit gaan blikkie toe.

“My bofhoue was ook goed en ek het baie min in die sukkelveld beland.” - Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.