Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Krista blameer skoonma vir aanval

Die vrou van die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen Lucas Glover het eerste ’n oproep na 911 gemaak en beweer sy is deur haar skoonma aangeval.

Krista Glover is Saterdag deur die polisie in Florida in hegtenis geneem. Foto: AP

Die verwikkeling is nóg ’n bisarre kinkel in die inhegtenisneming van die gholfspeler se eggenoot, Krista Glover, vir gesinsgeweld.

Stuff.co.nz berig ’n klankopname van die oproep is Donderdag uitgereik.

Lucas het die telefoon beantwoord toe die polisie in die Amerikaanse deelstaat Florida die egpaar se huis in Jacksonville terugskakel en gesê sy vrou het gejok.

“Ja, hallo, ek dink ons het ons lyne hier gekruis. Hierdie is die eggenoot, die verstandige een van die groep,” sê Lucas in ’n kalm stem.

“My vrou het julle geskakel ... Nou probeer sy my ma blameer, wat glad nie die geval is nie ... My vrou het mal geword.”

Krista is in hegtenis geneem en aangekla van aanranding ná afloop van Saterdag se derde ronde op die TPC Sawgrass-gholfbaan in Florida.

Sy is Sondag op borgtog van $2 500 vrygelaat en verskyn op 31 Mei in die hof.

In ’n verklaring wat die polisie by Lucas afgeneem het, sê hy dat wanneer hy swak gholf gespeel het, begin sy vrou met ’n rusie deur vir hom te sê hy is ’n verloorder en ’n “p***y” en as hy nie wen nie sal sy en die kinders hom verlaat en hy sal sy kinders nooit weer sien nie.

Die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen Lucas Glover en sy ma, Hershey, is glo deur sy vrou, Krista, aangerand. Foto: Getty Images

Lucas, wat vroeër Saterdag ’n telling van 78 in sy derde ronde behaal het vir ’n MDF (made cut, did not finish), het ook aan die polisie gesê sy vrou het alkohol gedrink.

Krista het die 911-operateur vertel sy is deur haar skoonma, Hershey Glover (62), aangeval, wat haarself daarna in haar kamer toegesluit het.

Krista het die foon neergesit toe sy gevra is hoe sy aangeval is en Lucas het geantwoord toe 911 terugskakel.

Hy het vriendelik geweier dat ’n noodeenheid na die huis gestuur word en die operateur het daarna gevra of sy weer met Krista kan praat.

“Nee, jy kan nie,” sê Lucas. “Sy is in die huis saam met my dogter. En wanneer die polisiemanne hier aankom, moet hulle met die man praat – dit sal ek wees – want hierdie ander twee is op die oomblik buite hulself.”

Wanneer die operateur uitwys dit was sy vrou wat geskakel het, sê Lucas: “Wel, sy gaan vir julle jok. Dit is wat ek vir jou sê. Dit is hoekom ek die foon beantwoord het. Sy vertel leuens.”

Hy het Dinsdagaand op Twitter die voorval bevestig.

“Op 12 Mei het my vrou en my ma in ’n argument betrokke geraak waarna die polisie ontbied is. Almal is oukei.

“Hoewel Krista aangekla is, vertrou ons dat die regstelsel die voorval op die beste manier sal hanteer en dat sy in hierdie private aangeleentheid kwytgeskeld sal word.”

Volgens die polisieverslag sê Lucas sy vrou het die onderonsie op die agterstoep begin en sy ma begin aanval toe dié tussenbeide probeer tree.

Die polisie het verskeie skraapwonde en bloed aan Lucas en sy ma opgemerk. Daar was bloed aan haar hemp en sy het aan die polisie gesê dat sy teen die bors geslaan is.

Die egpaar het twee kinders, ’n dogter wat Maandag vyf geword het en ’n tweejarige seun.

Lucas spog met drie seges in die PGA-reeks, wat die Amerikaanse Ope in 2009 insluit. Hy het ook al twee keer in die Presidentebeker gespeel.

Lucas het verlede seisoen nagenoeg $2 miljoen verdien en is 104de op die wêreldranglys.

– Sportredaksie

Meer oor:  Gholf  |  Lucas Glover
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.