Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Gholfbase staan bont ná minister se flater
Steeds nie toelaatbaar nie . . . Suid-Afrikaanse gholfbase moes Vrydag vure doodslaan ná ’n kabinetslid verkeerdelik gesê het mense mag weer gaan gholf speel. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se gholfbase moes Vrydag vure doodslaan, nadat die adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, Obed Bapela, op Cape Talk gesê het Jan Publiek mag maar weer gaan gholf speel.

Bapela het in ’n gesprek met Refilwe Moloto, aanbieder van Cape Talk se oggendprogram, gesê “nie-kontaksporte, waar mense nie aan mekaar raak nie, soos gholf en tennis” word weer toegelaat.

Dit is nie die geval nie, soos die direkteur-generaal van die departement van sport, kuns en kultuur in ’n videokonferensie aan GolfRSA bevestig het.

Volgens die regulasies vir vlak 3 van die nasionale inperking wat Donderdag gepubliseer is, mag beroepspelers wel weer oefen, maar sportgronde is nie oop vir die publiek nie. Die regulasies spesifiseer glad nie watter reëls vir gholfbane geld nie, hoewel aanvaar kan word dat dit as ’n sportarena beskou word.

Die vae aard van die regulasies het gelei tot verskillende interpretasies en is aangevuur deur misleidende inligting in die media.
GolfRSA

Daarby sal sportwedstryde ook weer toegelaat word, maar slegs in nie-kontaksportsoorte en sonder enige toeskouers.

GolfRSA sê “die vae aard van die regulasies het gelei tot verskillende interpretasies en is aangevuur deur misleidende inligting in die media”.

“In ’n videokonferensie met die direkteur-generaal van die departement van sport, kuns en kultuur is bevestig dat, soos sake tans staan, gholfbane nie toegelaat sal word om onder vlak 3-regulasies oop te maak nie.

“Wees egter gerus dat ons praat met die departement, wat op sy beurt praat met die nasionale Covid-19-bevelsraad, om meer duidelikheid rondom gholf en ander nie-kontaksportsoorte te kry voor die minister se nuuskonferensie Saterdag.”

Die minister van sport, Nathi Mthethwa, is geskeduleer om Saterdagoggend om 10:00 op ’n nuuskonferensie meer inligting oor die invloed van vlak 3 op sport te gee.

“GolfRSA, die Sonskynreeks, die PGA van Suid-Afrika en die Klubbestuurvereniging van Suid-Afrika staan sterk in ons geloof dat gholfbane en -geriewe vir alle gholfspelers moet oopmaak,” sê GolfRSA in sy verklaring.

“In ander dele van die wêreld is die terugkeer van gholf vir rekreasie en oefening onderhewig aan Covid-19-protokol, toegelaat. Bogenoemde organisasies glo almal gholf moet ’n terugkeer maak voordat enige professionele toernooie kan plaasvind.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Regulasies  |  Gholf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.