
Patrick Reed het reeds in Saterdag se derde ronde van die WCG-kampioenskap ’n rooi hemp en donkerblou broek gedra. Hy sou Sondag ’n rooi hemp en swart broek dra om hulde te bring aan Tiger Woods.Foto: US Today Sports
Rory McIlroy en Justin Thomas was Sondag in die laaste ronde van die WCG-kampioenskap in Florida van die spelers wat hulde aan Tiger Woods sou bring.
Woods word in die Cedars-Sinai mediese sentrum in Los Angeles behandel nadat sy regterbeen gebreek en sy enkel verguis is in ’n motorongeluk Dinsdag.
Die 45-jarige Woods is besig om te herstel en was volgens die hospitaal “in goeie luim”.
Woods, wat reeds 82 keer PGA-toernooie gewen het, speel gewoonlik op Sondae in ’n rooi hemp en swart broek.
Afgesien van McIlroy en Thomas, sou die voorloper, Collin Morikawa, en Patrick Reed volgens die Golf Channel ook Sondag in Woods se rooi en swart kleure speel.
Die Amerikaner Max Homa het die idee voorgestel, maar aangesien hy nie die regte klere ingepak het nie, sal hy nie daarin kan speel nie.
Annika Sorenstam, wat op 50-jarige ouderdom in haar eerste LPGA-toernooi sedert 2008 speel, sou ook in rooi en swart in die vroue-toernooi gespeel het. – Reuters