Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Gholfster sê García is ‘kinderagtig’
Sergio García in Saoedi-Arabië in aksie voordat sy humeur hom sy verdere deelname aan dié toernooi gekos het. Foto: Getty Images

Die driemalige major-kampioen Brooks Koepka het Sergio García in die openbaar tereggewys nadat dié Spanjaard se vloermoere in ’n gholftoernooi in Saoedi-Arabië daartoe gelei het dat hy gediskwalifiseer is.

García is uit die afgelope Saudi International-toernooi, wat deel van die Europese reeks is, geskop nadat hy in ’n paar woedebuie in die derde ronde van die setperke beskadig het.

Brooks Koepka Dinsdag in ’n radio-onderhoud in New York. Foto: Getty Images

’n Video het ook later op sosiale media verskyn, waarin García in dié toernooi ’n sandkuil drie keer moker nadat hy ’n swakkerige hou uit die kuil gespeel het.

Koepka, wat verlede jaar die Amerikaanse Ope én Amerikaanse PGA-kampioenskap gewen het, het Dinsdag in ’n onderhoud op die Playing Through-potgooi gesê dis tyd dat García grootword.

“Hy het soos ’n kind opgetree. Dis jammer dat hy dit gedoen het. Ek het ook swak gespeel, maar jy het nie ander spelers só sien optree nie.

“Ek bedoel, jy’s 40 jaar oud (García is 39), so jy moet die een of ander tyd grootword.”

Koepka het gesamentlik 57ste geëindig in dié toernooi, wat die eerste keer aangebied is. Sy Amerikaanse landgenoot Dustin Johnson was die wenner.

Vier van die topvyf-spelers op die wêreldranglys was danksy reuse-verskyningsgelde by die Royal Greens-buiteklub in King Abdullah Economic City in aksie.

García, die Amerikaanse meesterskampioen in 2017, was nog altyd ’n vurige speler, maar ná sy eerste major-sukses, sy troue en ’n eerste kind – alles binne ’n jaar – het hy op die oog af baie kalmeer.

Koepka het nie saam met García gespeel in die toernooi in Saoedi-Arabië nie, maar het later by ander spelers van sy gedrag te hore gekom.

“As ’n speler is dit frustrerend om so iets (García se optrede) te sien. Om so tekere te gaan is disrespekvol teenoor almal. Om soos ’n kind op te tree is onaanvaarbaar en stel ’n swak voorbeeld,” het Koepka gesê.

García het ná sy diskwalifikasie in ’n verklaring verskoning vir sy optrede gevra.

“Ek respekteer die besluit om my te diskwalifiseer. Uit frustrasie het ek ’n paar setperke beskadig. Ek is baie jammer daaroor en het vir my mede-spelers gesê dit sal nie weer gebeur nie.”

– Reuters

Meer oor:  Gholf  |  Brooks Koepka  |  Europese Reeks  |  Pga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.