Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
REED WÉÉR UITGEVANG
G’n ‘sand’ aan Yank Reed te smeer
Aussies gaan VSA-kuller gas gee in Presidentebeker

’n Jakkals verander van hare, maar nie van streke nie.

Dié ou gesegde geld die Amerikaanse gholfspeler Patrick Reed, want die 29-jarige speler het hom Vrydag vir die hoeveelste keer in sy loopbaan aan skelmstreke skuldig gemaak.

Patrick ReedFoto: getty

Reed het by die 11de putjie tydens die derde ronde van die Hero World Challenge-toernooi in die Bahamas besluit die presiese plek waar sy bal in die sandkuil geland het, is darem te moeilik om net so uit te speel.

Want daar het letterlik sand gelê waar hy die bal moes tref. Geen probleem as jy Reed is en tevore die reëls aangepas het nie, het hy besluit.

Terwyl hy gemaak het of hy sy swaai oefen en kwansuis uitwerk presies hoe hy die bal daar gaan uitkry, het hy die sand stukkie vir stukkie met twee “houe” weggevat.

Toe hy deur beamptes daarop gewys is, het hy heel verbaas gereageer en gemaak of hy van geen sout of water bewus is nie.

“Ek voel my stok was ver agter die bal toe ek die oefenswaai geneem het,” het Reed volgens The Guardian gesê.

“Uiteraard het ek ’n bietjie sand raak geslaan. As gevolg daarvan is ek met twee houe beboet, hoewel ek nie dink dit (die sand wat hy weggeslaan het) het beïnvloed hoe my bal gelê het nie.

“Ek aanvaar my straf van twee houe, hoewel daar geen bedoeling aan my kant was nie,” het Reed gesê, wat hom ná afloop van die derde ronde drie houe agter die voorloper, Gary Woodland, bevind het.

Die ding van Reed is dat hy blykbaar ’n geskiedenis het as iemand wat oneerlik deur die lewe gaan.

Toe hy byvoorbeeld ’n student aan die Universiteit van Georgia was, is hy uit dié instelling se gholfspan gelaat omdat hy oneerlik was en van sy spanmaats gesteel het, berig golf.com.

’n Paar jaar later het hy ’n toernooi gewen en in ’n onderhoud kort daarna gesê dat hy onder die wêreld se voorste vyf spelers is. Dit terwyl hy toe 40ste in die wêreld was.

Reed is natuurlik meer as slegs ’n gemiddelde gholfspeler, soos wat sy sege in verlede jaar se Meesters­toernooi getuig.

Maar dit lyk of sy jongste manewales hom die grap van wêreldgholf gemaak het.

Twitter-gebruikers het hul gifpenne uitgehaal, soos ene Alex ­Myers wat gesê het dat Reed in ’n stadium “moet begin verantwoordelikheid aanvaar”.

Reed is deel van Amerika se span wat volgende week aan die Presidentebeker deelneem en kan hom volgens die Australiër Marc Leishman vir ’n vuurwarm ontvangs van toeskouers daar voorberei.

Meer oor:  Patrick Reed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.