Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Goosen vereer met plek in Heldesaal
Retief Goosen sal aanstaande jaar die vierde Suid-Afrikaner in gholf se Heldesaal word.Foto: Getty Images

Die tweemalige major-kampioen Retief Goosen sal aanstaande jaar die vierde Suid-Afrikaner in wêreldgholf se Heldesaal word.

Goosen sal in Junie 2019 in Kalifornië saam met die voormalige Augusta-voorsitter Billy Payne, die vrouespeler Jan Stephenson, die gestremde toertjiehouslaner Dennis Walters en baanbreker Peggy Kirk Bell in die Heldesaal ingelyf word.

Dít is erkenning vir ’n goue loopbaan wat 36 seges wêreldwyd en tussen 2001 en 2007 meer as 250 weke in die top-10 van die wêreldranglys ingesluit het.

“The Goose” was boonop twee maal die Europese reeks se geldwenner, het die Amerikaanse Ope twee keer (in 2001 en 2004) gewen en het in ses agtereenvolgende Presidentebeker-toernooie gespeel.

Ernie Els (AFP)

Hy volg met sy inlywing in die voetspore van sy landgenote Ernie Els, Gary Player en Bobby Locke, wat soos hy meer as een major-titel gewen het.

“Dit was ’n effense skok,” het Goosen volgens Golf Channel oor sy beplande inlywing gesê. “Jy vergeet oor die jare ’n bietjie wat jy in die spel vermag het, so ek is bly dat wat ek in gholf gedoen het, my in hierdie posisie geplaas het.”

Goosen, Payne, Stephenson, Walters en Bell was saam met tien ander kandidate op ’n kortlys vir inlywing. ’n Paneel van 16 mense, onder wie Player, Jack Nicklaus en Annika Sörenstam, het hulle vir dié groot eer gekies.

Bell, wat in 2016 oorlede is, het in 1949 ’n major-titel gewen, maar uiteindelik dieper spore getrap as ’n baanbreker wat vir die regte van vrouespelers geveg het.

Payne, wat verlede jaar as voorsitter van Augusta National (die gasheerklub van die Amerikaanse Meesterstoernooi) uitgetree het, is soos Bell in die Lewenslange Bydrae-kategorie benoem.

Walters, wat verlam in die onderlyf geword het toe ’n gholfkar in 1974 oor hom gery het, het sedertdien naam gemaak met sy vermoë om skynbaar onmoontlike houe vanuit sy rolstoel te slaan.

Dis die kruin van die berg hierdie. Ek is in skok en ongeloof.
Dennis Walters

“Dis die kruin van die berg hierdie,” het hy oor sy Heldesaal-inlywing gesê. “Ek is in skok en ongeloof.”

Stephenson (66) is ’n driemalige major-wenner wat in haar speeldae ’n groot gunsteling van toeskouers was en volgens Golf Channel “glans aan vrouegholf” verleen het.

Meer oor:  Retief Goosen  |  Vsa  |  Suid-Afrika  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.