Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Grace het Meesters-plan in agterkop

Sedert Branden Grace in April vanjaar pa geword het, het hy ’n brandende begeerte: om in April by Augusta vir klein Roger ’n wit oorpak aan te trek en as sy “joggie” in die Amerikaanse Meesterstoernooi se jaarlikse syfer3-kompetisie in te span.

Branden Grace speel ’n hou in Woensdag se oefenronde voor die begin van die SA Ope. Foto: Gallo Images

Maak nie saak dat hy dan net meer as ’n jaar oud sal wees en nie ’n setyster van ’n drywer kan onderskei nie. Sy seuntjie, sê Grace, dra nou reeds klere vir peuters van 18 tot 24 maande oud en gaan nog loop voor hy begin kruip. Hy sal reg wees vir dié grootse taak.

Daar huiwer egter wel ’n donker wolkie in die agtergrond wat dreig om op Grace se Augusta-droom te reën: die moontlikheid dat hy nie sal kwalifiseer om daar te gaan stok swaai nie.

Alle gholfspelers in die top-50 op die wêreldranglys aan die einde van 2018, kry uitnodigings na die jaar se eerste Major.

Grace bevind homself tans in die 50ste plek en loop dus die gevaar om terug te sak na ’n tipe Major-niemandsland. Dit was voorop in sy gedagtes terwyl hy sy laaste voorbereidings gedoen het vir die Suid-Afrikaanse Ope (wat Donderdag in Randburg begin) en aanstaande week se Alfred Dunhill-kampioenskap buite Malelane.

“Dit sal bitterlik teleurstellend wees as ek buite die top-50 eindig voor die einde van die jaar, maar ek voel tog my gholf is tans goed genoeg vir my om dit te verhoed,” het die 31-jarige Buffelsbaaier Woensdag gesê.

“ ’n Goeie week hier sal genoeg wees en ek speel volgende week ook.

“Dit is vir my sleg dat ek eintlik vanjaar ’n heel bestendige jaar gehad het. Ek het net twee afsnypunte gemis en vier top10-uitslae gehad, maar is steeds 20 plekke laer op die wêreldranglys as aan die begin van die jaar.

As ek die toernooi wen, sal ek kan spog dat ek al vier die toernooie wat in my opinie Suid-Afrika se grotes is – die Joburg Ope, die Alfred Dunhill, die Nedbank en die SA Ope – gewen het. Ek sal baie daarvan hou.
Branden Grace

“Ek het probleme met hoe die posisies bepaal word, byvoorbeeld dat ons eintlik oor die tweejaar-periode moet probeer om minder as 52 toernooie te speel omdat dit jou kans om langer in iets soos die top-50 te bly, verbeter. Maar ek weet ook nie hoe ons dit kan verander nie.

“Maar ek dink ook ek kon ’n bietjie harder gedruk het aan die einde van die Nedbank-uitdaagtoernooi. As ek daar ’n beter uitslag (as vierde) behaal het, sou ek nou hoër op die ranglys gewees het, sonder hierdie druk.

“So ek moet ook na myself kyk en ophou om die voet van die brandstofpedaal te haal sodra dit duidelik raak dat ek nie meer ’n toernooi kan wen nie. Elke uitslag tel. Dis iets waaraan ek moet werk.”

Grace het gesê hy is verheug om by die Randpark-klub te wees vir die SA Ope, aangesien daar vir ’n ruk die moontlikheid was dat die toernooi weens ’n gebrek aan borge nie sou voortgaan nie.

En met ’n vierde plek en tweede plek in sy laaste twee SA Ope-verskynings (in onderskeidelik Januarie 2017 en Januarie 2018) sal hy niks meer geniet nie as om die keer die wenkampie te betree nie.

“As ek die toernooi wen, sal ek kan spog dat ek al vier die toernooie wat in my opinie Suid-Afrika se grotes is – die Joburg Ope, die Alfred Dunhill, die Nedbank en die SA Ope – gewen het. Ek sal baie daarvan hou.”

* Benewens die feit dat vier van Suid-Afrika se major-kampioene (Ernie Els, Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Trevor Immelman) almal by Randpark is, is ander SA groot kanonne soos Grace, Dylan Frittelli en Justin Harding ook teenwoordig om die toernooi glans te gee.

Daar is boonop ook sewe van die land se heel beste amateurs, wat toekomstige sterre soos Jovan Rebula, Wilco Nienaber en Christo Lamprecht insluit.

In die 15-jarige Yurav Premlall (wat Woensdag die top-kwalifiseerder by die Johannesburg-buiteklub was) het vanjaar se toernooi ook sy jongste deelnemer in meer as 40 jaar.

Meer oor:  Sa Ope  |  Gholf  |  Randpark-Gholfklub  |  Branden Grace
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.