Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Grace kan vlam weer aansteek by Sonstad

Om terug te keer na die toneel van een van sy triomftogte, is dalk net die inspuiting wat Branden Grace se gholfloopbaan nodig het.

Dié wenner van Nedbank se Uitdaagtoernooi twee jaar gelede, het sy deelname aan vanjaar se toernooi by die Gary Player-buiteklub by Sun City bevestig.

Branden Grace kry ’n vonkelwyn-stort nadat hy die Nedbank-uitdaagtoernooi in 2017 gewen het. Foto: Getty Images

Tot dusver was vanjaar ’n misoes vir die eertydse Buffelsbaaier. Hy het net een keer onder die voorste tien spelers geëindig in ’n toernooi waarin hy afgeslaan het. Dít was die Phoenix Ope vroeg in die jaar.

Daarna was sy naam omtrent nog nêrens op die voorloperbord nie.

Hy het ook teruggesak op die wêreldranglys en tel nie eens meer onder die voorste 100 spelers nie. Hy is nou nommer 101 ter wêreld.

In 2017 was hy die eerste Suid-Afrikaner sedert Trevor Immelman ’n dekade gelede, wat die gesogte kristalbal as trofee omhoog gehou het by Sun City.

“Die Gary Player-buiteklub is ’n ikoniese baan,” het Grace vandeesweek in ’n mediaverklaring gesê.

“Dit is ’n baie uitdagende baan, maar ook baie regverdig.”

Grace het ’n ongelooflike sethou van ongeveer 16 meter op die 16de putjie van die laaste ronde in 2017 gesink om sy neus voor te kry en uiteindelik met een hou te wen.

Verlede jaar se wenner, die Engelsman Lee Westwood, het met daardie sege die eerste Europese speler geword wat drie keer by die Sonstad kon seëvier, nadat hy dit ook in 2010 en 2011 syne gemaak het.

Andy Stubbs, die besturende direkteur van die Europese reeks, was vandeesweek by Sun City en reken Grace kan die vlam in sy loopbaan weer aansteek deur terug te keer na ’n plek waar hy weet wat dit verg om te wen.

Soos meeste dele van die land gaan Sun City ook gebuk onder die groot droogte en is die gras baie dor.

Die setperke is wel goed versorg, maar die toernooi-direkteur, Ken Payet, glo dat goeie reënbuie voor die toernooi van 14 tot 17 November noodsaaklik is.

“Dit sal manna uit die hemel wees as ons goeie reën kan kry. Die droogte maak sake baie moeilik vir diegene wat die baan versorg. Ons doen ons bes om te verseker dat die baan in top-kondisie sal wees,” sê hy.

Stubbs voel die mededinging gaan vanjaar soos altyd baie straf wees.

“Meeste van die voorste 20 spelers in die Race to Dubai (die Europese reeks se geldwennerslys) sal hier wees. Ons het reeds vir Bernd Wiesberger (van Oostenryk), wat nou die voorloper is, asook Tommy Fleetwood en ook ouens soos Lee (Westwood) en Padraig (Harrington, die kaptein vir die volgende Ryderbeker-toernooi).

“Oor die volgende paar weke gaan daar nog stewige name aangekondig word om hier te kom speel,” het Stubbs tydens sy kort besoek aan Sun City gesê.

Meer oor:  Sun City  |  Gholf  |  Nedbank-Uitdaagtoernooi  |  Branden Grace
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.